Local newsNews

Skool en vrou vier 101e verjaarsdag saam

Laerskool Rapportyer en Lizzie le Roux het vanjaar saam die groot mylpaal van 101 jaar oud gevier.

Tannie Lizzie le Roux en Laerskool Rapportryer het vanjaar saam die groot mylpaal van 101 jaar oud gevier.

Tannie Lizzie het op 3 Julie verjaar en Rappies het sy groot dag in April gevier.

Hannetjie Liversage, 84, wat al 66 jaar by Laerskool Rapportryer werk, het die ooreenkoms raakgesien en die kans aangegryp om twee Laerskool Rapportryer-leerders, Miché Smith (Graad 5) en hoofseun Jaden Smith (Graad 7) te betrek.

Die Herald het op Maandag, 27 November saam met Hannetjie, Sunette Smith en haar twee kinders (Miché en Jaden) by Tannie Lizzie gaan kuier. Isabel Smal, 70, Tannie Lizzie se dogter wat na haar omsien, het hulle verwelkom en Tannie Lizzie, wat baie van mense en gesels hou, het met groot blydskap die Kersgeskenk ontvang wat Miché en Jaden aan haar oorhandig het.

Die kuiergaste was verras om te sien hoe goed Tannie Lizzie daar uitsien. Sy stap flink, hoor goed en het ‘n helder verstand. Tannie Lizzie se geheim is om gesond te eet en te oefen, en reg te lewe. Sy oefen elke oggend. “Al die dank gaan aan die Here,” het sy gesê.

Tannie Lizzie is in Elandsfontein gebore en woon al 26 jaar in Renaissance Aftree-oord. Sy en haar man, Dries was baie gelukkig getroud. Hy is reeds oorlede.

Hulle het vyf kinders – twee dogters en drie seuns. Tannie Lizzie se agter agter agterkleinkind is nou op pad. Dit sal die vyfde geslag wees.

Sy het verder vertel dat sy altyd gevra is om vir siekes of mense met probleme te bid. “Party nagte word ek net wakker en bid dan vir ‘n spesifieke persoon.”

Isabel het vertel hoe hard haar ma altyd gewerk het, en dat sy ook die lekkerste kos kon maak. “My ma is baie netjies op haarself, en as sy siekerig voel, glo sy nie daaraan om sommer net op haar bed te gaan lê nie.”

Tannie Lizzie se boodskap aan die jeug is dat hulle respek vir hulle ouers en alle ander mense moet hê, en hulle beste in die skool lewer. Die geheim vir ‘n goeie huwelik is dat paartjies saam die Here moet dien, saam staan, en respek vir mekaar moet hê, glo sy.

“Hulle moet definitief ook as ouers ‘n voorbeeld aan hulle kinders stel,” het sy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button