Local newsNews

Minderbevoorregtes baat by funksie

Die Open Door Foundation se fondsinsamelings by die NG Kerk Randfontein-Noord was 'n kunstige geleentheid.

Ongeag die reën en koue was dit die perfekte kombinasie van kuns, geselligheid en inspirasie.

Die Open Door Foundation het op Vrydagaand, 24 November ‘n gesellige byeenkoms gehou waar die publiek na ‘n besige jaar kon afskakel. Die niewinsgewende organisasie wat na minderbevoorregte kinders omsien, kanaliseer druppels uit die sakegemeenskap, kerke, plaaslike regering en gemeenskappe in ‘n stroom om daardie kinders se lewens te verander.

Van die kuns wat die aand uitgestal is.

Koekoes Cordier, projekbestuurder van die stigting, het vertel dat hulle primêr fokus op die voorsiening en instandhouding van funksionele fasiliteite, die bemagtiging van die bestuur vir ‘n volhoubare en funksionele skool, en die opleiding en vorming van die personeel vir kwaliteitonderrig om ‘n veilige leeromgewing te skep waarbinne die kinders kan groei om skoolgereed te wees.

Die tema vir die onlangse fondsinsameling was ‘Herontdek jou lewensvreugde’ en is aangebied by die NG Kerk Randfontein-Noord. Die hoofspreker was doktor Pieter Joubert. Daar was ook ‘n uitstalling deur kunstenaars van die Randfontein Kunsvereniging en Cum Laude Kunsskool.

“Die fondse wat vanaand ingesamel word, gaan aangewend word vir ons projekte by Jabulani- en Badirile ECD-sentrums,” het Koekoes gesê.

Sy het aan die Herald vertel dat dit die eerste keer was dat die organisasie ‘n kunsuitstalling aangebied het dat die aand ‘n groot sukses was. Die kunsskool

het ook tien persent van die aand se verkope aan die organisasie geskenk.

Koekoes wil graag die gemeenskap en almal wat betrokke was bedank vir hul bydrae by die funksie. Sy het vertel dat dit vir haar lekker is om deel en ook betrokke te wees van iets wat so ‘n groot verskil in kinders se lewens maak.

Die organisasie beplan reeds groot projekte vir 2018 wat onder andere insluit ‘n sake-ontbyt, ‘n boek wat bekend gestel gaan word en ‘n langtafel-funksie soos dié wat gereeld in Stellenbosch gehou word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button