Local sportSport

Boogskiet vanuit ‘n ander perspektief

Die pryse van boogskiettoerusting wissel van betreklik mededingend vir beginners en deeltydse sportentoesiaste tot die duur gespesialiseerde toerusting vir die meer gevorderde en ernstige skuts.

Mense stel al vir eeue lank belang in die kuns van boogskiet – hetsy om te jag of oorlog te voer.

In Suider-Afrika is die Khoi-San eeue reeds alombekend vir hul gebruik van pyle en boë vir jagdoeleindes. Hul rotstekeninge weerspieël dit.

Boogskiet as sport word al jare in verskeie lande beoefen, maar dit het die afgelope aantal jare baie gewild geword.

‘n Kruisboog.

Die pryse van boogskiettoerusting wissel van betreklik mededingend vir beginners en deeltydse sportentoesiaste tot die duur gespesialiseerde toerusting vir die meer gevorderde en ernstige skuts.

Boogskiet is ook gewild onder hedendaagse jagters.

Die Herald het onlangs met Benré Strydom gesels. Hy is ‘n plaaslike oogkundige asook ‘n jag- en wapenentoesias wat ook vanuit ‘n ander hoek na die sport kyk aangesien hy reeds ‘n meestersgraad in sportvisie verwerf het. Hy het vertel dat boogskiet in verskeie kategorieë verdeel kan word:

• ‘n Kompakte (compound) boog is kragtig en word vir kompetisies, ontspanning en 3D-kompetisies gebruik, asook tydens die Olimpiese Spele

• ‘n Kruisboog (crossbow), wat ‘n boog-en-geweer-kombinasie is, word veral vir jag gebruik. Boogskutters wat probleme met die ander tipes boë ondervind, verkies kruisboë

• ‘n Kurfboog (recurve bow) is die oudste boogvorm en word tydens die Olimpiese en Paralimpiese Spele gebruik

“Daar is ‘n toenemende belangstelling by skoolkinders om aan boogskiet deel te neem. Daar is reeds verskeie klubs en kompetisies waaraan hulle kan deelneem,” het Benré gesê.

Daar is verskeie redes waarom boogskiet so gewild is:

• Die hele familie – oud en jonk – kan dit saam beoefen en kompeterend wees

• Dis ‘n genotvolle tydverdryf en besonder gebruikersvriendelik

• Iemand met ‘n aanvoeling vir die sport kan provinsiale of Protea-kleure verwerf en selfs die land internasionaal verteenwoordig

Faktore wat sukses kan beïnvloed:

• Die basiese tegnieke vorm die grondfase van boogskiet en skuts moet dit onder die knie kry

• Die regte manier van staan, die boog vashou en die boog trek is van kardinale belang vir goeie resultate

• Die ankerpunt – die punt waar die boogsnaar gehou word voor die skut na ‘n teiken mik en dan uiteindelik skiet – moet altyd op dieselfde punt wees om goeie resultate te verseker

Benre het aan die Herald vertel dat daar verskeie baie belangrike aspekte is wat in gedagte gehou moet word. Dit geld vir dié wat reeds boogskiet beoefen en vir dié wat beplan om die sport te beoefen.

“Hand-oog-dominansie is baie belangrik. Gebruik altyd, indien moontlik, ‘n boog wat jou oogdominansie komplementeer; dit wil sê ‘n regterhandse boog indien die regteroog dominant is, en andersom.

Dit is veral van belang indien die skut binokulêr, of te wel met albei oë oop gaan skiet. Indien die skut nie volgens sy of haar oogdominansie kan skiet nie, byvoorbeeld weens ‘n skouerbesering of kruis oog-hand-dominansie, sal so ‘n skut monokulêr of te wel slegs met een oog oop skiet,” het Benré gesê.

Hand-oog-koördinasie is volgens hom ook baie belangrik aangesien die skut met ‘n konstante herhaling na ‘n teiken moet kan mik en dan daarna kan skiet. Hy glo dat hoe beter die hand-oog-koördinasie, hoe beter sal die resultate wees.

Liggaam-oog-koördinasie oftewel balans is ook van kardinale belang vir ‘n skut se vermoë om gereeld en akkuraat, skoot na skoot dieselfde aksie uit te voer.

Boogskiet verg dissipline en gereelde oefening, maar dit hou groot beloning en bevrediging in.

Indien jy as individu of julle as familie aan ‘n sportsoort wil deelneem vir ontspanning of om aan gereelde kompetisies deel te neem, kan boogskiet gerus oorweeg word. Benré is beskikbaar om enige vrae daaroor te beantwoord, en sal help waar hy kan. Skakel hom gerus by 083 984 0107.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at randfonteinherald@caxton.co.za  (please remember to include your contact details in the email) or phone us on 011 693 3671.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites

Roodepoort Record

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Related Articles

Back to top button