Opinion

Dis die ekstra myl wat saak maak

Julle word genoem: Die sout van die aarde! Weer – baie baie dankie.

Ry ek en my ou klein dingetjie, 58 jaar oud, om brandstof te spaar.

Brandstofmeter wys nog ‘n kwarttenkvol, vergeet ek die meter slaan vas as gevolg van die lank staan – ry ek maar net – ‘n kwarttenkvol sal my nog dae hou.

Slap by Tambotie-winkelsentrum in, met die terugkeer sluk die dingetjie so twee, drie keer en toe onthou ek van die ‘vasslanery’ van die brandstofmeter en ons staan! Gelukkig het ek ‘n houer in die bagasiebak. Die vulstasie in Randgate is maar so 300 meter weg en ek stap.

Nou, dis SA en amper krismis en ek moet gedurig omkyk of die dingetjie nog daar is want die wiele, ligte, wieldoppe en watêwwer verdwyn, want dis SA – vergeet maar krismis! Stop hy hier direk langs my met ‘n yslike pragtige Everest, neus wys terug Randfontein toe.

“Klim,” seg hy. “Ek vat jou gou vir brandstof.” “Nee,” seg ek, “baie dankie vriend maar jy is op pad na die dorp – ek is bykans by die pompe.” “Klim!” seg hy weer. “Ek draai om want ek het jou karretjie sien staan en hy’s nou-nou weg!”

Klim ek in op egte leerstiplekke en die koudmaak ding is ook aan want dis blitsig warm. Vat hy my tot by die pompe, vertel hy my hy’s op verlof en het gou die honde weggevat vir sjampoe en so aan en sy naam is Adriaan. Hy wag geduldig tot ek gehelp word en hy vat my tot by my ou dingetjie wat darem nog voltallig is.

Adriaan, dis nie elke Sondag twee keer kerk toe of twintig teksversies uit jou kop dikteer of jou ‘reuse’ tiende wat saak maak nie – dis die ekstra myl! Jou soort is yl gesaai!

Julle word genoem: “Die sout van die aarde!” Weer – baie, baie dankie.

Related Articles

Back to top button