Local newsNews

Almal kan uitsien na rolprent oor Toekies

Dit is die verhaal van die ontworteling in die 1970's na aanleiding van die Wet op Groepsgebiede van 1950.

Op Saterdag, 11 November is die onafhanklike rolprent, Toekomsrus Ons Erfenis die eerste keer in Randfontein vertoon. Inwoners het reeds van 3nm af by die hekke begin instroom.

Die ATKV-tak Toekomsrus was die gasheer vir die vertoning wat by Da’side Venue in Aureus aangebied is. Die dialoog van die rolprent, wat deur Jacelyn Xenia Kok vervaardig is, is in Afrikaans met Engelse onderskrifte. Claudia Samson en Sam Tshabalala vertolk die hoofrolle.

Deline Joël, Jo-ann Bok en Mary-Ann Bok het heerlike sosaties verkoop.

Die Herald het die geleentheid gehad om met die regisseur, Rodney Prins, 29, ‘n bekende by Randfontein High School (RHS) te gesels. Rodney het vertel dat dit ongeveer twee maande geneem het om die film te maak en dat al die akteurs en aktrises van Toekomsrus is. Rodney self het ook ‘n rol in die fliek.

Jada Pienaar, of te wel Mellissa Campbell in die film, is 17, en is in Hoërskool Riebeeckrand. Sy is die enigste akteur wat formele dramaklasse neem.

Jada Pienaar en Nadia Beaufort net voor die vertoning. Foto: Ingestuur.

Vir die ander spelers was dit net hul natuurlike talent wat na vore gekom het.

Behalwe vir die rolprentvertoning was daar Saterdag ’n mark met verskillende stalletjies wat kunswerke, handwerk, kos en drankies te koop aangebied het. Daar was allerlei pretaktiwiteite vir kinders én grootmense. Deline Joël, Jo-ann Bok en Mary-Ann Bok het heerlike sosaties verkoop. Hulle vertolk self rolle in die film.

Teen 7nm het almal opgewonde reggeskuif vir die buitelugvertoning van die rolprent oor sommige van die inwoners se vergete geskiedenis.

Die rolprent is die buitelug vertoon. Foto: Ingestuur.

Meer oor die rolprent:

Toekomsrus ons erfenis is die verhaal van ontworteling in die 1970’s na aanleiding van die Wet op Groepsgebiede 41 van 1950. ’n Getroude paartjie word neergegooi op vervloekte grond in ’n lokasie met die naam van Toekomsrus. Die rolprent is geïnspireer deur ware gebeure.

Ons leer dat die verlede ’n manier het om terug te kom om by ons te spook. Dit is nie beter om sekere dinge te verswyg nie. Dit moet in ons eie stemme uitgespreek word sodat dit reggestel kan word en tot versoening kan lei.

Soms erf ons dinge wat nie goed is nie. Soms erf ons gebrokenheid, verlies en eensaamheid. Toekomsrus ons erfenis leer ons dat ons nie altyd ons erfenis kan kies nie, maar dat ons wel die vermoë het om dit ten goede te verander as ons bereid is om die waarheid in die gesig te kyk en saam te staan. Die krag van een persoon word belig in hierdie drama wat toon hoe daardie persoon se soeke na die waarheid ’n hele gemeenskap red.

Die rolprent ontgin hierdie kwessies en ontbloot al die geheime van en leuens oor een van die oudste bruin townships aan die Wes-Rand. Die huise is gebou op geskiedkundige grond met ongemerkte grafte van soldate wat gesterf het tydens die Jameson-inval in 1896; dieselfde slagveld wat aanleiding gegee het tot die tweede Anglo-Boereoorlog. Dis heilige grond wat nou erken en eerbiedig moet word.

Alhoewel die rolprent nie in teaters vertoon gaan word nie, sal dit iewers aanstaande jaar op Kofifi TV verskyn.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button