Local newsNewsUpdate

Seun, 3, doodgeskok — Sy laaste woord was ‘Mammie’

Tragiese verhaal van 'n ma en pa wat verlede week hul kind aan die dood afgestaan het weens elektriese skok by oop kragboks.

Op Donderdag, 14 September, om ongeveer 4.30nm is die driejarige Taylor Julius doodgeskok toe hy ‘n bal by ‘n oop kragboks wou gaan haal het.

Die Herald het vanoggend (18 September) met sy bedroefde ouers gesels. Die trane het vlak in Culver Volmink, 31, en Jolina Julius, 30, se oë gelê. Die paartjie, wat al 14 jaar saam is, het ook ‘n sesmaande-oue babaseuntjie, ‘n vyfjarige dogtertjie en ‘n negejarige seun.

Volmink het vertel wat op daardie tragiese dag gebeur het.

Culver Volmink en Jolina Julius. Die pyn kan duidelik op Jolina se gesig gesien word.

“Ek was by die werk toe ek gesien het Jolina het my dringend gesoek. Ek het toe geweet iets is fout. Toe ek by die huis kom, het ek die nuus gehoor. Volgens familie, inwoners en die ses seuns wat saam met Taylor in ‘n stil straat balgespeel het, is hy doodgeskok toe hy hul bal tussen ‘n muur en ‘n oop kragboks gaan haal het.”

Lees oorspronklike artikel hier: Boy, 3, killed by electric shock

Een van Julius se susters, Urel Smith, het gesê die kinders het nie besef wat met Taylor gebeur het nie. Hy het net daar gelê. ‘n Man met mediese opleiding het gewonder hoekom die kinders om Taylor staan, en toe hy nader gaan en aan Taylor raak om hom te probeer help, is hy ook geskok. Die man het sy bes gedoen om Taylor se lewe probeer red.

Taylor het vir ‘n rukkie bygekom en is na ‘n dokter toe geneem, wat gesê het hy moet hospitaal toe geneem word. Op pad hospitaal toe het hulle ‘n ambulans teëgekom en Taylor daarheen geneem. Die seuntjie het weer bygekom en “Mammie” gesê, maar net daarna sy laaste asem uitgeblaas.

“Niks sal my kind terugbring nie. Niks. Maar die mense wat verantwoordelik is om die kragbokse reg te maak en te sorg dat dit toe is, moet betaal vir wat hulle gedoen het,” het Julius huilend gesê.

Die familie gaan ‘n prokureur raadpleeg om hul saak te behartig. “Hy was baie na aan my. Hy was ‘n kind wat in almal se harte ingekruip het,” het Julius gesê.

“Die gemeenskap meld die probleem al baie lank by die munisipaliteit aan maar hulle doen niks nie. Die dag na Taylor se dood het die munisipaliteit net dié spesifieke boks toegemaak. Hulle het glad nie na die ander gekyk nie. Hier is baie,” het Volmink vertel.

Kaptein Appel Ernst, Randfontein-polisiewoordvoerder het ‘n verklaring uitgereik en die familie besoek.

Julius het ook aan die Herald gesê sy weet hy is op ‘n beter plek. “Hy was vanoggend by my in my drome. Hy het baie gelukkig en gesond gelyk.”

Taylor word Donderdag begrawe, en Sechels Funeral Directors gaan die begrafnis gratis vir die familie behartig. Die paartjie bedank hulle en ook vir Blom Festile, wat gaan help met die verversings. Almal is welkom by die begrafnis. Die tyd waarop dit gaan plaasvind is nog nie aan die Herald bekend nie.

Priester Victor Tserema van die Ou Apostoliese Kerk in Toekomsrus, gaan die begrafnis waarneem.

Die Herald het kommentaar van die Rand West City Local Munisipaliteit aangevra. Tshidiso Tlharipe, woordvoerder van Uitvoerende Burgemeester, Mzi Khumalo, het namens die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit meegevoel met die oorledene se familie betuig. Daar is glo met die familie gereël dat Mzi en senior bestuurslede van die munisipaliteit hulle sal besoek om self hul medelye uit te spreek

Enige lid van die gemeenskap wat kan help met die verversings vir die begrafnis, kan vir Culver Volmink by 074 022 4598 skakel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button