Local newsNews

Kat wreed vermink in Greenhills

'n Kat se een oog was uit, sy tong vermink en die helfte van sy kakebeen weg nadat 'iemand' hom beetgekry het.

Diere-eienaars in Greenhills word aangeraai om hul diere op te pas nadat ‘n kat met erge beserings by sy huis aangekom het.

Sosiale media is onlangs oorstroom met opmerkings nadat ‘n plaaslike inwoner, Chantelle Jacobs, ‘n boodskap op Facebook geplaas het vir die persoon wat glo haar kat amper onherkenbaar beseer het. Die mannetjieskat se een oog was uit, sy tong vermink en die helfte van sy kakebeen weg.

“Ek wil net sê … wie ook al dit aan ‘n dier doen het nie ‘n hart nie. Ek hoop jy kry jou dag. Die kat was myne,” het Chantelle gesê.

Volgens Chantelle was die kat se naam Y. Sy is ‘n groot diereliefhebber en was baie geheg aan haar kat. Chantelle het aan die Herald vertel dat sy die kat ‘n ruk gelede by iemand gekry het wat geëmigreer het. Die kat het blykbaar soms rondgeloop, maar het elke aand huis toe gekom.

Lees ook: Pit bull owners warned

Ongeveer ‘n week gelede het Y spoorloos verdwyn. Chantelle was bekommerd en het na hom begin soek. Woensdag 30 Augustus het Y weer sy verskyning gemaak, maar Chantelle het onmiddellik gesien dat iets fout was. “Hy het vreeslik gelyk,” het Chantelle gesê.

Y se een oog was uit, sy tong vermink en die helfte van sy kakebeen was weg. Foto ingestuur.

Volgens Chantelle was daar geen aanduidings dat Y deur ‘n ander dier aangeval is nie.

Hy kon nie eet of drink nie, en het swaargekry. “Daar is voorgestel dat ons hom moes laat uitsit. Dit was te erg om hom so te sien ly,” het Chantelle gesê.

Chantelle is baie bekommerd aangesien verskeie gemeenskapslede op sosiale media vertel het dat dieselfde met hulle diere gebeur het.

“Dis so hartseer. Het met ons kat ook so ‘n maand terug gebeur. Hulle het hom so geslaan en in die winter sopnat gegooi. Weet nie wat van ons menslike standaarde word nie, ” het Sonja du Plessis gesê.

“Iemand het dit met my kat ook gedoen. Eers later gehoor dit was die buurman wat haar met ‘n krieketkolf in haar gesig geslaan het. Toe sy by die huis instap was sy vol bloed. Haar kakebeen het los gehang. Haar oë was amper uit die kaste en het swelling op haar brein gehad. My veearts kon haar red, maar moes ‘n titaniumkakebeen vir haar laat inbou. Sy moes weer leer eet soos n babatjie en was lank in die hospitaal … ek het die buurman laat arresteer want hy het my ander kat in haar maag geskiet. Mens kry demoniese mense, maar God slaap nie,” het Vicky van Niekerk gesê.

Chantelle raai diere-eienaars aan om hul diere veilig te hou en ook dieremishandeling by die polisie en die DBV aan te meld.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button