Local newsNewsUpdate

Publiek gee voorstelle vir kruising na gru-ongeluk

Oplossings van publiek stroom in oor kruising na vrou sterf. Lees hulle hier ...

Na aanleiding van nog ‘n tragiese ongeluk by die Tambotie/ Horingbek en Malan-kruising op Maandag, 31 Julie, het die Herald die gemeenskap gevra om moontlike oplossings vir die probleem te gee.

Verskeie inwoners het op die groep, I lived in Randfontein and survived it se Facebook-blad hul sê gesê om nog ‘n gru-ongeluk te probeer voorkom.

Lees meer hier: Woman killed in crash at horror intersection

Die Herald het reeds Kenny Mampondo, Randfontein-verkeershoof genader. Hy het onderneem om so gou as moontlik te reageer.

Hier is van die voorstelle waarmee die publiek vorendag gekom het:

• Haal die sirkel uit en sit stoptekens daar. Randfonteiners weet nie wat ‘n toegeeteken is nie. Of sit nog hobbels soos by die ouetehuis voor die verkeerslig

• Hobbels aan al vier kante voor verkeersligte

• Spoedkameras by groot kruisings met verkeersligte

• Die mense jaag om oor die kruising te kom voor die verkeerslig na rooi oorslaan. Plaas spoedkameras voor elke verkeerslig, en dan ook nie te ver van die verkeerslig af nie sodat die mense gedwing word om die verkeerslig/ kruising teen die regte spoed te nader

• Laat die verkeersbeamptes meer diens doen by die gevaarlike plekke in die dorp. In die ou dae is hulle meer by skole en ander plekke gesien, nou sien mens hulle nooit. Waar is hulle?

• Soos almal sê, bring pyltjies aan. Die verkeerslig moet ook nie so vinnig oorslaan nie. Sit spoedbordjies op, en hou sekere mense dop wat nie weet hoe werk ‘n sirkel nie. Mense moet net weer padreëls begin volg

• In plaas van spoedhobbels in strate te sit waar raadslede bly, probeer liewer om maatreëls in plek te sit soos groot verkeersirkels (wat beter is as die powere probeerslag in Malanstraat) in Lazaarlaan in beide rigtings te sit om die verkeer te dwing om stadiger te ry. As dit in Pretoria kan werk, kan dit ook in Randfontein werk

• Ek stem 100-persent saam. Lazaarlaan is ‘n resiesbaan, veral saans en op ‘n Vrydag en Saterdag. Dit verstom my dat selfs groot trokke daar afjaag

• As hulle net Tambotie se verkeerslig sinchroniseer sodat die verkeer vloei in plaas daarvan dat almal daar stop

• Kry die nuwe verkeerslig se tydsberekening reg

• Daai sirkel is nou regtigwaar nie nodig nie

• Waar is Randfontein se verkeersbeamptes? Ek kan nie onthou wanneer laas ek hulle opgemerk het nie. Slegs sigbaar nadat daar ongelukke plaasgevind het. Lyk my hulle is ‘n bedreigde spesie, daarom word stoptekens en verkeersligte asook verkeersreëls verontagsaam. Daar is niemand om die sondaars te straf nie!

• Sigbaarheid van die verkeerspersoneel is nodig

• Spoed word beboet maar wat van onverskillige bestuurders? Mense is ongeduldig en neem nie ander bestuurders in ag nie. Geen hobbels en sirkels gaan help as die bestuurders self nie begin verantwoordelik wees nie

• Die verkeerslig slaan te vinnig oor. Geen mens kry kans om te ry nie. Sit dalk ‘n pyltjie daar. En ja, mense moet begin om hul padreëls na te kom. Ek het gister weer gesien hoe jaag iemand oor daardie rooi verkeerslig. Dis mense soos hy wat ongelukke gaan veroorsaak

• Sigbaarheid van ‘n verkeersbeampte sal nie help sonder die toepaslike wetstoepassingsmetodes nie. Dan moet ook gekyk word na die tegniese aspekte, onder andere verkeersvloei en verkeersligmeganisme. Kameras vir wetstoepassing gaan ook nie ‘n invloed hê nie. Ek stel voor dat die ingang toegemaak word, dus met slegs een in- en uitgang by die sirkel. Dit sal ‘n positiewe invloed op die verkeersinsidente en die voorkoming van misdaad hê.

Die Herald het ook kommentaar van landdros Elbie Botha gekry. Sy maak dit duidelik dat as die verkeerslig oranje slaan, dit ‘n waarskuwing is. ‘n Persoon moet dan rem.

Mampondo se kommentaar sal in volgende week se Herald geplaas word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

ENGLISH:

Related Articles

Back to top button