Local newsNews

Ouers omgekrap oor aanbieding by skool

Ouers hoogs ontsteld oor inhoud en wyse waarop 'n program onlangs aan Rappies-leerders aangebied is.

Daar is groot ontevredenheid by ouers na ‘n aanbieding wat die Teddy Bear-kliniek vroeër dié week by Laerskool Rapportryer gedoen het.

Op Maandag, 31 Julie het die kliniek ‘n sogenaamde ouderdomstoepaslike program vir die voorkoming van kindermishandeling en SAFE (Safe and Friendly Environment) vir leerders by die skool aangebied.

Elizabeth Steenkamp, maatskaplike werker en projekbestuurder van die Teddy Bear Foundation het vertel die onderwerpe van die program sluit in bewusmaking oor kindermishandeling, om inligting te gee oor die verskillende soorte mishandeling, bewusmaking oor kinderpornografie, en bewusmaking oor mensehandel en afknouery.

“Die aanbieding word afsonderlik vir die onderskeie ouderdomsgroepe gedoen om toe te sien dat dit wat vir die leerders vertel word, by hul onderskeie ouderdomme pas. Na die aanbieding kry die leerders die geleentheid om hul vrae en dit wat hulle kwel, met die fasiliteerder te bespreek,” het Steenkamp gesê.

Dae later is die Herald oorval met oproepe van ontstoke ouers wat hoogs ontsteld is oor die inhoud en wyse waarop die program vir hul kinders aangebied is.

Die pa van onderskeidelik ‘n ses- en ‘n 10-jarige leerder van die skool – wat nie sy naam wil noem nie om sy kinders te beskerm – het aan die Herald verduidelik dat hy geskok was toe sy kinders onaangename woorde gebruik en snaakse vrae begin vra het – iets wat hulle nooit voorheen gedoen het nie. Sy ander besorgdheid is dat die program vir seuns- en dogterleerders saam aangebied is. Hy het ook vertel dat teddiebere en hande gebruik is om verskillende scenario’s te verduidelik en uit te beeld, wat nie vir hom aanvaarbaar is nie.

Die pa oorweeg dit sterk om sy kinders uit die skool te haal.

‘n Ma van ‘n sewejarige dogter het gesê haar kind is getraumatiseer en sukkel nou om te slaap as gevolg van die aanbieding. Sy het ook genoem dat haar dogter net van orale seks praat – iets waarvan sy voorheen niks geweet het nie. Sy voel dat die skool nou berading aan die kinders moet gee.

Een van die belangrikste redes vir die ouers se ontevredenheid is dat hul toestemming nie vooraf gevra is of hul kinders die aanbieding mag bywoon nie.

Steenkamp het gesê, “Die SAFE-praatjie is op versoek van die skool by Rapportryer gefasiliteer nadat die onderwysers opleiding ontvang het in die hantering van kindermishandeling binne die onderwysstelsel wat deur die Teddy Bear Clinic aangebied is”.

Die Herald het Dinsdag, 2 Augustus die skool oor die insident genader. Die bestuur het vandag (Donderdag, 3 Augustus) ‘n verklaring op sosiale media uitgereik.

“Met verwysing na die aanbieding deur die Teddy Bear-kliniek op Maandag, 31 Julie, het dit onder die beheerliggaam se aandag gekom dat daar wye ontevredenheid by ons ouers is oor die inhoud en wyse van aanbieding. Die intensie van die program was om voorkomend op te tree, en die beheerliggaam verstaan dat die inisiatief geneem is in goeie trou en in die belang van al ons leerders.

“Daar is ‘n noodvergadering deur die beheerliggaam op Woensdag, 2 Augustus belê om die aangeleentheid te bespreek en te besluit op die pad vorentoe. Die klagtes aangaande taalgebruik, eksplisiete voorstelling en so meer is breedvoerig bespreek.

“Die volgende besluite is geneem: Daar sal ‘n skrywe gerig word aan die Teddy Bear-kliniek om die misnoeë van die ouergemeenskap met die program onder hulle aandag te bring. In die toekoms word enige soortgelyke aanbieding van sensitiewe aard deur ‘n eksterne instansie aan die beheerliggaam voorgelê vir goedkeuring. Indien nodig, sal die inhoud van die program ook aan die ouers voorgelê word. Ouers sal in die vervolg skriftelike toestemming verleen vir bywoning van inligtingsessies.”

Dirk Odendaal, voorsitter van die beheerliggaam het telefonies aan die Herald gesê, “Met die uitreiking van die verklaring is daar aandag aan die onderwerp gegee deurdat die skool die Teddy Bear-kliniek in kennis gestel het dat daar baie ontevredenheid is oor die aanbieding van die program. In die tye waarin ons leef, moet ons ons leerders en kinders waarsku teen seksuele mishandeling. Dit kan ongelukkig nie vermy word nie.”

Volgens Odendaal wag hulle op terugvoering van die Teddy Bear-kliniek.

Steenkamp het die volgende kommentaar gelewer: “Nadat ek vroeër vandag in ‘n telefoongesprek met die Herald van die ouers se ontevredenheid gehoor het, is daar ‘n afspraak met die hoof gemaak om môreoggend, 4 August, die aangeleentheid te bespreek. Na die vergadering met die skoolhoof sal daar ‘n vergadering met die ouers belê word om hul ontevredenheid te bespreek en leiding oor die saak te gee.”

Op sosiale media het dit gegons …

• “Skade is gedoen. Hulle kan om verskoning vra soveel hulle wil. Gaan niks aan die saak verander nie.”

• “Net jammer dat die Hoof van die skool, die leier onder wie ons kinders is, nie die aanbieding bygewoon het nie. Hy sou dalk kon ingryp en dinge kon stopsit. Dankie, beheerliggaam, maar die kinders het dinge gesien en gehoor lank voor hulle moes en nou kan dit nie van hulle af geneem word nie. Baie, Baie, Sleg!”

Volgens ‘n ander ouer het selfs van die onderwysers wat die aanbieding bygewoon het, uitgestap omdat hulle ongemaklik gevoel het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button