Opinion

Toekies ‘n omgewing vir onwettige bedrywighede?

Die dorp is alreeds sinoniem met boosheid en plae wat aan satanisme grens na die inbraak by die kliniek.

Toekomsrus lyk na die omgewingsvriendelike teelaarde vir alle ongewenste elemente en onwettige bedrywighede.

Eers was dit waterpype en nou het ‘n nuwe verpesting weereens sy kop hier uitgesteek: ongepatenteerde kondoom-klipskieters – ‘n aangepaste ontwerp soortgelyk aan die bottelnek-pylskieters wat ons destyds as kinders ‘vervaardig’ het.

Die toestel verskaf meer onsmaaklikhede as plesier en die ontstoke ouers bejeën die situasie met kommer, en vrees ‘n fatale voorval voordat vredebewakers daadwerklik begin optree.

Dalk moet ons GPF of wyksraadslede in die verband betrokke raak om die fabrikante aan die kaak te stel en die euwel in die kiem te smoor.

Die verskaffers is besig om kinders se gedagtes te besoedel met hul ‘onsmaaklike’ uitvinding aangesien kondome orals vrylik beskikbaar is en aan die instrument ‘n lewenslange waarborg verleen.

Toekies is alreeds sinoniem met boosheid en plae wat aan satanisme grens na die inbraak by die kliniek ter wille van bestanddele vir die vervaardiging van dwelms soos die afskuwelike vernietiger, nyaope en tik.

Volgens ‘n gerehabiliteerde dwelmkenner is rottegif en antiretrovirale medikasie die hoofbestanddele van hierdie dodelike dwelms. Inwoners met eerstehandse inligting [vertel] dat daar selfs spuitnaalde en kondome in die slag gebly het na die inbraak by die kinderafdeling van die kliniek.

‘n Juffrou van Hartzstraat Primêr het by die byeenkomsblad die kinders ernstig aangespreek oor hierdie nuwe gewaarwordinge.

Snags loop wakende inwoners met verdwaalde oë deur die strate uit vrees vir ‘n skielike skietaanval vanaf waar die toegelate ‘skerpskutters’ skuil. Selfs vensterruite en troeteldiere word bedreig en slegs ‘n voorval kan in hierdie geval die probleem nietig verklaar, voordat die twisappel in ‘n turksvy ontaard.

Related Articles

Back to top button