Local newsNews

Baba se stryd teen virusinfeksies

'Niemand sal weet hoe sy voel om haar seuntjie so te sien nie' – Familielid oor vrou wie se baba al meer as 'n maand in die hospitaal in 'n stryd met virusinfeksies gewikkel is.

‘n Familie van Randgate hou nie op bid vir die sewemaande-oue Zihanco Posthumus nie wat reeds meer as ‘n maand lank in Netcare Garden City se intensiewesorg-eenheid behandel word.

Zihanco is op 1 Desember 2016 deur middel van ‘n noodkeisersnee in ‘n privaat hospitaal gebore. Ses maande later is sy liggaampie deur verskeie virusse aangeval.

Klein Zihanco, in die intensiewesorg-eenheid van Garden City. Foto: Ingestuur.

Volgens sy ma, Mardene, 27, is haar seuntjie toe opgeneem in die hospitaal waar gebore is, en was ongeveer 12 dae daar voordat hy na Netcare Garden City-hospitaal oorgeplaas is.

Lees ook: Speeltyd vir kankerlyertjie

Denese van Loggerenberg, 48, Mardene se tannie het Donderdag vir die Herald vertel dat Zihanco op vyf maande erg begin hoes het en nie sy kos kon binnehou nie. Ten spyte van vele besoeke aan die dokters kon hulle nie agterkom wat sy toestand veroorsaak het nie.

“Op ses maande het hy so gehoes dat hy rooi in sy gesig geword het. Mens kon sien hy het verskriklik pyn,” het Denese gesê.

Die dokter het hom teen longontsteking behandel maar toe daar geen verbetering was nie, is verskeie toetse op Zihanco uitgevoer. Hy is na Garden City oorgeplaas waar vasgestel is dat sy immuunstelsel uitgeput was weens verskeie virusse wat hom aangeval het.

Die doktors het besluit om Zihanco op Ekmo-lewensondersteuning (ekstrakorporeale membraanoksigenering) te plaas.

Zihanco en sy ma, Mardene Posthumus, voordat hy siek geword het. Foto: Ingestuur.

In ‘n artikel op Netcare se webblad word dit beskryf as ‘n lewensondersteuningstelsel wat gebruik word om suurstoftoevoer na die brein en ander organe te verseker.

Die behandeling was vir Mardene en haar hegte familie senutergend omdat dit bepaalde risiko’s inhou, en genadiglik het dit geslaag. Daarna is Zihanco op ‘n ventilator geplaas. ‘n Oor-, neus- en keelspesialis sou die seuntjie die oggend van die onderhoud besoek aangesien sy keel baie geswel was.

Denese het gesê die familie se redding is hul sterk geloof.

“Mardene is ‘n baie sterk vrou maar niemand sal weet hoe sy voel om haar seuntjie so te sien nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Related Articles

Back to top button