Local newsNews

Vrou wil terug Kaap toe na man se dood

"My ma is 76, en sy is ook baie siek. My kinders en my familie is in die Kaap."

Beaterix (Heidi) Roestorf se man Japie, wat verlede jaar tot die redding van vier vroue in ‘n brandende huis in die Strand in die Wes-Kaap gekom het, is onlangs oorlede. Niks hou haar meer hier in Randfontein nie, daarom wil sy terug Kaap toe.

Japie Roestorf is op 6 Julie oorlede en ‘n week later in Randfontein begrawe. Heidi het aan die Herald vertel dat haar man as ‘n ware held beskou word nadat hy verlede jaar een van die vier vroue – wat almal glo saam in ‘n huis gewoon het – uit die brandende huis gered het. Heidi het vertel dat die ander drie vroue self uit die huis kon kom. Die vrou vir wie Japie gered het, is vier maande daarna glo weens skok dood.

Heidi Roestorf, nou ‘n weduwee, kan weer ‘n toekoms in die Kaap hê.

Japie het daarna asbestose ontwikkel en baie siek geword. Dit is glo veroorsaak deur die mengsel van asbes en sement wat bouers destyds gebruik het toe hul huis gebou is. In September verlede jaar het ‘n dokter hulle aangeraai om eerder in Gauteng te kom woon, aangesien die voggehalte van die lug hier baie laer as by die kus is.

Heidi was verplig om uit haar werk te bedank en van haar bedlêende ma, haar kinders en familie af weg te trek. Heidi was boonop in ‘n ongeluk met hul voertuig betrokke voordat hulle Gauteng toe getrek het. Japie se skoonseun het toe hulle voertuig in die Kaap gaan haal.

Japie is vanjaar op 10 Maart in ‘n staatshospitaal opgeneem waar hy vir vog in sy longe behandel is. Daarna was hy gereeld in die hospitaal.

Op 4 Julie het Japie baie siek geword en is per ambulans Leratong Hospitaal toe geneem. Hy het twee dae later beswyk, nadat sy maagseer glo gebars het. ‘n Hartseer Heidi het gesê,

“Nou wil ek net terug Kaap toe. Ek kan my ou werk terugkry. My ma is 76, en sy is ook baie siek. My kinders en my familie is in die Kaap.”

Aangesien sy en Japie van sy staatspensioen as hul enigste inkomste geleef het, kan Heidi dit nie bekostig om terug te gaan na haar familie toe nie.

Sy het vertel dat sy nou hul 1996 Ford Telstar se onderdele wil verkoop om te kan terugtrek Kaap toe. Sy hoop ook op hulp van die gemeenskap of dat besighede sal saamstaan met donasies of enige ander hulp.

Heidi se nommer is 071 1225420 of 076 742 9840. Maritza van Zyl (Joernalis) kan ook geskakel word by 011 693 3671.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button