Local newsNews

Jessica, 5, op pad oorsee vir modelwerk

Sy's net vyf jaar oud, maar is reeds uitgenooi om oorsee aan die Little Queen and King World 2017-kompetisie deel te neem.

Jessica Troskie, 5, wat uitstekend vaar in modelwerk, is uitgenooi om aan die Little Queen and King World 2017-kompetisie in Burgas, Bulgarye deel te neem.

Die kompetisie vind van 15 tot 21 Augustus plaas.

Jessica is ‘n Graad R-leerder van Laerskool Gerrit Maritz en student van die Emerald Modelling Academy in Homelake. Esmarilda Nortje, 21, eienaar van die modelskool rig Jessica al ‘n jaar lank by haar skool af. Dit is verstommend wat die jong deelnemertjie al bereik het.

Op 22 Oktober verlede jaar het sy tydens die Future Model and Talent-kompetisie die afdeling vir ‘Best evening wear’ gewen, asook die gesogte titel Miss Grand Prix Talent.

Op 11 Maart vanjaar, het sy tweede by die Model of the Year 2017-kompetisie geëindig en ook die titel van Best Personality gekry. Vroeg in Mei is sy tydens die SA Future Fashion Face 2017-kompetisie as die deelnemer met die beste talent aangewys, en het algeheel tweede geëindig.

Jessica Troskie saam met haar afrigter, Esmarilda Nortje.

By die Mr and Miss Just in Time-kompetisie later dieselfde maand was sy die derde prinses in haar ouderdomsgroep.

Op 10 Junie het sy die titel Little Model Earth 2017 Nationals SA gewen, waar sy ook die wenner in die kategorieë vir ‘Best Interview’ en Grand Prix Model was, asook die Mpumalanga-wenner.

Op 24 Junie het sy by die Mej Carletonville-kompetisie goud in die ‘Excellence Walk’-afdeling verower.

Haar pa en ma, Phillip en Theresa Troskie, is baie trots op hulle dogter. Esmarilda is ook baie bly dat Jessica die modelskool se naam so hoog hou. Phillip en Theresa bedank graag vir Sinta van der Ryst vir al die uitrustings wat sy vir Jessica se kompetisies maak.

Kompetisies is uiteraard baie en dit kos ongeveer R80 000 om Jessica in Bulgarye te laat deelneem. Phillip het gesê dat as hulle nie hulp en borge kry nie, Jessica dalk nooit weer so ‘n geleentheid sal kry nie.

Indien daar ‘n persoon of besigheid is wat dit vir Jessica kan moontlik maak om wel te gaan, skakel asseblief haar ouers by 064 615 7239 of 072 908 3859.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button