Local sportSport

Hardloop is in Vicky se bloed

"Ek wou bitter graag met ‘n medalje teruggaan huis toe. Ek het nie omgegee watter een nie, solank ek net een kry."

Vicky van Zyl se voetreis het in 2009 begin. Sy het onlangs twee van die grootste wedlope ter wêreld aangepak.

Op 18 April het Vicky aangetree vir die grootste uitdaging van haar lewe; The Munga Trail –The toughest race on earth. Die 400km-wedloop op distrikspaaie, plaaspaaie, voetslaanpaaie, oor doringdrade en selfs treinspore was voorwaar ‘n uitdaging vir haar wat vooraf harde oefening en uithouvermoë geverg het.

“Jy moet alles wat jy nodig het vir die 120 uur wat jy gegun word om klaar te maak saam met jou dra. Al wat voorsien word is kos, water en slaapplek op sekere punte wat 30km uit mekaar is,” het Vicky vertel.

Sy het bygevoeg dat deelnemers basies 80km per dag hardloop om betyds by die eindpunt uit te kom. Uit die 23 deelnemers wat aangetree het, het net nege dit reggekry. Navigasie in die donker en op ongemerkte paaie het baie van die deelnemers die pad laat byster raak en die horlosie het nooit ophou tik nie.

Vicky moes na 174km noodgedwonge onttrek nadat sy haar koplamp in die vroeë oggendure verloor het. Sy het vertel dat sy egter oneindig dankbaar is vir die geestelik verreikende ervaring wat sy gehad het.

Net 48 dae later het Vicky vir die Comrades Marathon aangetree. Sy was een van die 17 031 deelnemers wat weggespring het.

“Vir my gaan die dag oor die kameraderie wat daar heers – nie net onder die deelnemers nie, maar in jou hart ook,” het Vicky gesê. “Jy is ‘n vreemdeling tussen duisende ander mense, maar jy voel nie alleen nie, want elke deelnemer weet dat by die huis honderde mense sit en asem ophou vir jou groot dag.”

Vicky het vertel dat dit nie saak maak hoeveel keer jy dit al gedoen het of hoe goed voorbereid jy is nie, die wedloop kan enige iets inhou. As dit nie vir jou bedoel is nie, gaan jy nie daardie eindpunt haal nie.

Dit was vir Vicky ‘n baie emosionele oomblik toe Chariots of Fire opgeklink het. Sy kon haar trane nie keer nie want die oomblik was te groot.

Sy het uiteindelik 1 351ste onder die vroue geëindig en in haar ouderdomskategorie was sy nommer 674.

Vicky wil graag ander inspireer om te doen waarvoor hulle lief is. Sy raai atlete egter aan om hulself nooit so te ooreis dat hulle hul liefde vir die sport verloor nie.

Dit is nie die einde van Vicky se toekomsdrome nie. Sy beplan om volgende jaar weer aan die Comrades deel te neem en ‘n beter tyd op te stel.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at randfonteinherald@caxton.co.za  (please remember to include your contact details in the email) or phone us on 011 693 3671.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites

Roodepoort Record

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Related Articles

Back to top button