Local newsNews

Red só jou vergifte hond se lewe

MOET-LEES: Noodbehandeling as jou hond gif ingekry het.

AfriForum se Randfontein-tak wil graag inligting oor vergiftiging aan inwoners en veral hondeienaars oordra.

Die volgende is algemene inligting en die raad word op eie risiko gevolg. As noodbehandeling vir ‘n hond wat vergiftig is, is dit belangrik om die hond so gou as moontlik te laat braak.

Pas noodbehandeling in die geval van vergiftiging so toe:

1. Gebruik ‘n spuit en dien 15ml-waterstofperoksied- (hydrogen peroxide) oplossing drie persent BP 10 volume stadig in die dier se bek toe. Voorkom asseblief dat dit in die longe beland.

OF:

2. Alternatiewelik kan een teelepel seeppoeier opgelos in ‘n koppie lou gekookte water op dieselfde wyse met ‘n spuit toegedien word. Verhoed asseblief dat dit in die longe beland.

3. Nadat die dier gebraak het, voer hom/ haar vyf tot ses geaktiveerde houtskooltablette (activated charcoal. Mens koop dit by die apteek. Dit sal die oorblywende gif in die maag neutraliseer/ absorbeer.

4. Indien geeneen van bogenoemde beskikbaar is nie, verbrand vier snye witbrood tot houtskool in die oond. Maak effe klam met lou gekookte water en forseer dit stadig met die vinger agter in die dier se keel in. Sorg dat die dier dit normaal sluk.

Daar is twee belangrike gifsoorte waarvan jy moet weet:

1. Two-step of aldikarb

Volg altyd in alle gevalle bogenoemde stappe 1 of 2 en 3. By hierdie tipe vergiftiging word die teenmiddel atropien binne-aars toegedien. Bespreek vroegtydig hierdie moontlikheid met jou veearts. Die veearts sal jou ook kan raad gee oor die gebruik van kortisoon, vitamien B en antihistamiene soos Allergex en Phenergan 10mg.

2. Rottegif

Volg altyd in alle gevalle bogenoemde stappe 1 of 2 en 3. Jy kan Kyrovite of vitamien K oor die toonbank bekom. Bespreek eers die behandeling met jou veearts. Die inspuiting moet verkieslik binne-aars toegedien word, andersins onderhuids. Die veearts sal jou ook kan adviseer oor die gebruik van kortisoon, vitamien B en antihistamiene soos Allergex en Phenergan 10mg.

Paddas

Volg stappe 1 of 2 en 3 hierbo – daarna kan ‘n klein bietjie vleissagmaakmiddel (meat tenderiser) of pynappelsap of papajapoeier, asook die skil in die mond gesmeer word om die proteïenketting van die speeksel te probeer breek. Braking kan beheer word met ’n pediatriese Valoid-setpil (of ander middels geskik vir babas). Setpille word vinnig opgeneem en nie uitgebraak nie. Gee daarna vloeistof soos rooibostee, nartjiegeur Energade, water en/ of bokmelk om self te drink.

Glasstukke ingesluk

Neem ‘n sny brood, smeer dik met mayonnaise, neem vier tot vyf watteballetjies en versprei eweredig oor die sny brood. Smeer dit toe met nog mayonnaise en vissmeer/ Marmite of soortgelyk. Sny die brood in 1cm-vierkante en voer dit vir die dier. Die watte haak aan die glasstukke en bind daarom, en behoort redelik gemaklik deur die spysverteringstelsel uit te skei. Gee daarna ook twee tot drie eetlepels aptekersparaffien in om die dermkanaal verder te smeer.

Gif

Simptome begin baie vinnig nadat gif ingeneem is.

• Spiersametrekkings (kan lyk of die hond/ kat bewe) en oormaat speeksel

• Die hond/ kat braak (bloeding in braaksel of stoelgang)

• Die pupille van die oë bly klein selfs as daar lig in die dier se oë skyn

• Pols/ hartklop is baie stadiger as normaal. (Normaal vir honde: klein hondjies rondom 160 per minuut, groot honde rondom 70 per minuut)

• Die dier kan stuipe (seizures) kry

• Die dier kan sukkel om asem te haal of na asem snak

• Minder algemeen is oormatige urinering, verswakte spierfunksie of verlamming

Noodhulp vir vergiftigde honde

As jou dier gif ingekry het, is die volgende stappe die belangrikstes:

Stap een en NB – Maak seepwater (seeppoeier) een teelepel op n koppie louwater water aan en gee dit vir hom in sodat hy die gif uitbraak.

Kry geaktiveerde houtskoolpille wat jy by die apteek koop. As jy nie geaktiveerde houtskool tot jou beskikking het nie, neem vier snye witbrood en verbrand dit in die oond tot koolstof. Dit is geaktiveerde koolstof. Maak dit klam en gee dit stadig in sodat dit die gif in die maag kan absorbeer en neutraliseer Daar vind hoofsaaklik twee soorte vergiftigings onder honde vandag plaas.

Baie belangrik: In alle gevalle, voltooi eers stap een so vinnig as wat jy kan. Dan moet jy ry om by die veearts te kom dat hy kan vasstel watter gif dit was sodat hy ‘n teenmiddel kan inspuit!

Dis van kritieke belang dat siek diere nie ontwater nie – gebruik ‘n skoon spuit wat ten minste 10 tot 15ml-vloeistof kan hou en gee 10ml van een van die volgende oplossings elke 15 tot 20 minute:

1. Maak een teelepel Marmite/ Bovril/ Oxo aan in ‘n koppie lou gekookte water. Na gelang van die gewig/ ouderdom van die hond, kan sowat 10 ml elke 15-20 minute stadig agter in die dier se keel ingespuit word (sonder dat dit in die longe beland).

2. Sou nartjiegeur Energade/ Powerade (energiekoeldrank) beskikbaar wees, kan dit om die beurt met die Marmite-water ingegee word.

3. Alternatiewelik kan elektroliete (9 gram/2 gelykvol teelepels tafelsout op 1 liter lou vooraf gekookte water gemeng met 4 teelepels suiker) gegee word.

4. Darrow-oplossing (Darrow’s solution) kan ook tussenin toegedien word. Dit moet goed gemeng word en elke 15–20 minute met die spuit toegedien word om liggaamskrag op te bou.

5. As die naartjiekoeldrank nie beskikbaar is nie, gee elke 20 minute ‘n vingerlek ‘rou’ heuning met die water in of sukrose. Onthou net dat suiker giftig is vir honde maar die maag se mikrobes benodig in dié geval energie. Dit is baie belangrik dat die afvalstowwe nie in die niere, lewer en maag konsentreer nie, maar uitgeskei word.

6. Valoid pediatriese setpil kan toegedien word volgens grootte/ gewig vir naarheid. Neem altyd die dier se massa en grootte in ag. Vir baie klein hondjies – net ‘n kwart pil; hondjies tot en met 20kg – ‘n halwe pil; meer as 20kg – een pil

7. Dien 5 druppels Lennon-staaldruppels tweemaal per dag in die Marmite-water deur die spuit toe (as dit ‘n groot hond is, gee 10 druppels) indien daar enige tekens van inwendige bloeding soos bloed in die stoelgang is. Turlington kan gebruik word as staaldruppels nie beskikbaar is nie.

8. Sorg altyd dat daar vars water naby is as die dier self wil drink, wat ‘n baie goeie teken is.

9. Ongegeurde wit Griekse vol- of dubbelroom jogurt en sterk, swart rooibostee sonder suiker kan net goed doen – die tannien in rooibos sal ook die maag help herstel.

10. Voer die hond sagte, halfgaar hoenderlewer of lewer, al is dit in klein hoeveelhede, met kort tussenposes. Gekookte pampoen sonder sout kan saam met fyngemaakte wit hoender gevoer word. Jy kan een teelepel Protexin en ‘n eetlepel jogurt met die pampoen meng.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button