Local newsNews

OPVOLG: Jannas-leerder verloor albei ouers in ongeluk

Man sterf dae na sy vrou ook in ongeluk sterf.

Familie en vriende is saam met Veronique Rossouw in rou gedompel nadat sy eers haar ma en toe dae daarna haar pa aan die dood afgestaan het.

Retha Rossouw, ‘n bekende inwoner van Randfontein asook onderwyser van Hoërskool Jan Viljoen (Jannas) is op Maandag, 10 April in ‘n motorongeluk in die Ekurhuleni-gebied dood.

Lees ook: Geliefde Jannas-onderwyser sterf in ongeluk

Veronique, ‘n voormalige Jannas-leerder en Retha se dogter het op haar ma se verjaarsdag (Woensdag 12 April) aan die Herald bevestig dat sy, haar ma en pa in die motor was toe die ongeluk gebeur het en dat hulle op pad was Ballito toe in KwaZulu-Natal om daar vakansie te hou.

Johan, Veronique en Retha Rossouw was al drie in die ongeluk. Foto: Facebook

Veronique se pa was dae na die ongeluk nog in die Natalspruit Hospitaal maar op Woensdag het die Herald die tragiese nuus by André Rossouw gekry dat sy broer Johan ook gesterf het.

‘n Baie emosionele André het gesê, “Ons was op pad na hom toe, maar ons was net te laat”.

André het bevestig dat Johan, Retha en Veronique op pad na Zimbali in Balito was om te gaan vakansie hou. Hy het gesê dat die begrafnis eerskomende Donderdag (20 April) gehou sal word en dat almal welkom is.

Dana van Vuuren, die Randfontein Rugbyklub-voorsitter het gesê, “Namens die klub wil ek die Rossouw-familie sterkte toewens in die moeilike tyd. Johan was een van drie Rossouw-broers wat by ons klubrugby gespeel het. Johan het in die laat 60’s, 70’s en selfs vroeë 80’s as heelagter uitgedraf. André het senter gespeel en Chris was ‘n slot. Johan was ook 15 jaar lank – van 1986 tot 1999 – die voorsitter van Randfontein Rugbyklub en het die langste as klubvoorsitter gedien.”

Retha Rossouw en haar dogter, Veronique, in 2016. Fotokrediet: Roxy de Villiers

Die Herald sal die gemeenskap in kennis stel waar die begrafnis gehou gaan word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

 

Related Articles

Back to top button