Opinion

Nie genoeg geld vir misdaadbekamping in Gauteng

Na die afgelope week se gebeure is dit uiters belangrik dat inwoners baie vinnig moet besef dat dit noodsaaklik is om self na hul veiligheid te begin omsien aangesien die regering, provinsiale regering en die polisie nie meer oor die vermoë beskik om inwoners te beskerm nie.

• Philip van Staden, VF Plus Lid van die Provinsiale Wetgewer (LPW) in Gauteng, skryf:

Die VF Plus se beroep op gemeenskappe in Gauteng, minder as ‘n maand gelede, om hulself teen misdaad te begin mobiliseer, begin nou in alle erns ‘n werklikheid word.

Dit volg nadat ‘n sestigjarige vrou van die plaas Kalbasfontein tussen Fochville en Westonaria die afgelope week in haar woning met ‘n elektriese boor gemartel is nadat sy by haar plaashek oorrompel is.

Die VF Plus is uiters bekommerd oor hierdie tendens en is van mening dat die Gauteng-regering nie veel beskerming aan inwoners sal kan bied nie, aangesien daar vir die 2017/18 finansiële jaar slegs R203 miljoen begroot is vir die Departement van Gemeenskapsveiligheid. R45 miljoen hiervan gaan verdeel word tussen die duisende plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), Gemeenskapsveiligheidsforums (GVF’s) en straatkomitees. R158 miljoen gaan oor drie jaar bestee word om geweld teen vroue en kinders te beveg. Hierdie syfers is op 7 Maart 2017 deur die LUR van Finansies, Barbara Creecy, bekend gemaak tydens haar provinsiale begrotingsrede.

Voordat mense bly raak oor die begroting, moet mens eers gaan kyk hoeveel GPF’s, GVF’s en straatkomitees daar in Gauteng geregistreer is. Die bedrag van R45 miljoen moet dan tussen daardie geregistreerdes verdeel word en op die ou end is die bedrag wat elk van hierdie organisasies ontvang om misdaad te bekamp, totaal en al onvoldoende.

Na die afgelope week se gebeure is dit uiters belangrik dat inwoners baie vinnig moet besef dat dit noodsaaklik is om self na hul veiligheid te begin omsien aangesien die regering, provinsiale regering en die polisie nie meer oor die vermoë beskik om inwoners te beskerm nie. Gemeenskappe moet nou dringend begin mobiliseer deur aan te sluit by plaaslike GPF’s en privaat buurtwagte.

Ek het self begin betrokke raak by my plaaslike GPF en begin om my woning nog meer te beveilig nadat ek die afgelope maand deel van die misdaadstatistiek geword het. Ek is ook konstant met my bure in verbinding.

Nie almal het die finansies om hul wonings te beveilig nie maar ons het nie ‘n keuse nie, selfs al moet jy ‘n verband op jou eiendom uitneem. Gebruik dit in plaas daarvan om nog ‘n motor te koop of om ‘n swembad te bou. Skerp daardeur jou sekuriteit op wat in elk geval jou eiendom se waarde verhoog. Indien jy ‘n huurder is, onderhandel met die eienaar by wie jy huur en kom tot ‘n vergelyk. As inwoners nie een van dié opsies kan uitoefen nie, sluit net ten minste by jou plaaslike GPF aan, kry ‘n radio in jou huis vir ‘n minimale bedrag per maand en meld aan vir patrollies in jou straat voor jou eie huis. As elke inwoner by sy GPF of buurtwag aansluit, sal dit baie bydra tot hul eie beveiliging.

Related Articles

Back to top button