Local newsNews

Sekuriteitsbestuurder en familie geteiken

Sekuriteitsmaatskappybestuurder en sy familie byna slagoffers van 'n inbraak in Greenhills.

Misdaad raak almal, maar as die hele gemeenskap daarvan bewus is, goed saamwerk en paraat is, kan ons misdaad bekamp.

So het Mac van Zyl, 49, operasionele bestuurder van EPR Sekuriteit gesê nadat hy en sy familie onlangs byna die slagoffers van ‘n inbraak was.

Volgens Van Zyl het ‘n onbekende aantal misdadigers vroeg Saterdagoggend, 25 Februarie by hul huis in Greenhills probeer inbreek.

Hy het die Herald vertel dat hy en sy familie nog geslaap het toe misdadigers hul palisadeheining gebreek het, die venster oopgeforseer het en die diefwering geknip het.

Aangesien die huis ‘n baie goeie alarmstelsel het, het die alarm afgegaan en die misdadigers het gevlug.

“Misdaad in Randfontein is hoog. Die begraafplaas is ‘n groot probleem, dit bied skuilplek vir misdadigers,” het Van Zyl gesê. Hy skryf dit toe aan die feit dat die begraafplaas nie in stand gehou word nie. Die misdadigers breek die begraafplaasheining om te ontsnap en dit word nooit herstel nie. “Randfontein se infrastruktuur is ook ‘n probleem. Die gras is lank en die paaie is nie gemerk nie. Dit maak dit moeilik om gou genoeg uit te kom by inwoners wat hulp nodig het,” het hy gesê.

Van Zyl is van mening dat die polisie nie genoeg mannekrag het om hul werk ten volle te kan doen nie. Hy het gesê, “Reaksiespanne soos die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en sekuriteitsmaatskapye soos ons help, maar ons kan nie misdadigers in hegtenis neem of sake ondersoek nie. Net die polisie kan.

“Die misdaad is in hierdie stadium hoog in Greenhills en op die Bootha-plotte. Daar is ook ‘n toename in die getal motorfietse en kwadfietse wat gesteel word. Die afgelope tyd is ongeveer ses kwadfietse gesteel.”

Van Zyl se raad is dat inwoners by hul naaste GPF aansluit en aktief daarby betrokke raak.

“Inwoners moet baie paraat en bewus wees van hul omgewing. Goeie samewerking in die gemeenskap sal baie misdadigers stuit. Misdaad raak almal,” het hy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button