Local newsNews

Arabierperd – Ons ander beste pel

Die Herald is na 'n boer se plaas in Holfontein naby Randfontein genooi waar ons met 'n Arabierperd kennis gemaak het.

Arabierperde, glo die oudste opreggeteelde perderas in die wêreld, is ook een van die beste om mee oor die weg te kom.

Die Herald is na ‘n boer se plaas in Holfontein naby Randfontein genooi waar ons met ‘n Arabierperd kennis gemaak het. En was dit nie ‘n aangename ervaring om die pragtige dier van naderby te leer ken nie!

Magnitude, 'n Arabierperd.
Magnitude, ‘n Arabierperd.

Arabierperde het ‘n goeie, liefdevolle temperament en hul liefde vir mense maak dit maklik om ‘n verhouding met hulle te ontwikkel. Hulle is ook besonder intelligent en word as dapper beskou. Weens hul besondere stamina is hulle geskik vir uithouritte en hul goeie temperament maak hulle baie geskik vir terapeutiese rykuns.

Die Arabierperdras het sy ontstaan in woestyngebiede soos Sirië, Iran, Irak en die Arabiese Skiereiland gehad. Die woord ‘Arabier’ se oorspronklike betekenis in die antieke tale soos Latyn, dui op ‘woestynbewoner’.

Die bloedlyn van Arabierperde strek oor 5 000 jaar. Hulle het ‘n kenmerkend groot voorkop, hoë stert, gekromde nek, groot prominente oë, groot neusgate en ‘n fyn bek. Die breë bors, kort, sterk rug en skuins skouers verleen aan die Arabier sy krag en vloeiende bewegings. Die perde is bruin met swart onderbene en maanhare. Wanneer volgroeid is, is hulle normaalweg tussen 14,1 en 15,2 hande hoog en weeg tussen 360 en 455kg .

Martinez Olivier voer vir Magnitude, 'n Arabierperd.
Martinez Olivier voer vir Magnitude, ‘n Arabierperd.

‘n Arabierperd het spoed, uithouvermoë en is besonder rats. In antieke tye het die wenner van perdewedrenne die beste perde uit die verloorder se kudde as prys ontvang. Die ontvanger het dit as ‘n besondere eer beskou indien ‘n merrie as geskenk gegee is aangesien hulle as die dapperste beskou is.

Die versorging van ‘n Arabierperd is gekompliseerd. ‘n Gebalanseerde voedingsprogram is noodsaaklik vir warmbloedperde sodat hulle fiks kan bly en hul goeie voorkoms kan behou. Die perde vreet deur die dag hooi, wat al die noodsaaklike voedingstowwe soos vitamiene en minerale bevat. Maar die perde verkies eintlik sappige groenvoer – gras of lusern – sowel as aartappels, wortels en beet. Swaar dragtige merries het spesiale voeding nodig.

In die winter koop telers dikwels voer wat reeds gemeng en ryk aan proteïene is. Arabierperde het ook as deel van hul dieet soutlekke nodig – dit is blokke sout wat minerale of kruie bevat wat hulle vurige geaardheid in toom hou. Hulle moet te alle tye skoon water beskikbaar hê omdat hulle glad nie vuil water sal drink nie.

Francois Olivier en Magnitude, 'n Arabierperd.
Francois Olivier en Magnitude, ‘n Arabierperd.

Arabierperde moet behoorlik versorg word. Hulle vel en hare moet goed skoongemaak, sagkens met spesiale borsels gemasseer en met die hand gestreel moet. Dit is uiters belangrik dat hul hoewe elke dag skoongemaak word aangesien dit verskeie siektes, insluitende kanker, voorkom. Spesiale aandag moet geskenk word aan die perd se oë, neusgate, lippe en ore. Om fiks te bly en goed te lyk, moet die perd ruimte hê om te hardloop, asook sand, modder of gras hê om in te rol. Wanneer ’n perd sweet nadat hy gedraf of gegalop het, moet ’n kombers eers oor hom gegooi word en dan moet hy later skoongemaak word.

Telers besluit wanneer hulle merries wil laat sal vul. Die meeste merries kan gewoonlik elke jaar vul. In haar normale lewensduur van 25 tot 30 jaar sal ’n merrie 15 tot 18 vulletjies gee.

Francois Olivier en Magnitude, 'n Arabierperd.
Francois Olivier en Magnitude, ‘n Arabierperd.

Die Arabierperdtelersgenootskap van Suid-Afrika (Arab Horse Society of South Africa) sien na die belange van hierdie gesogte Arabierperderas en -telers om.

• Bron: Die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania in ‘n artikel met opskrif ‘Verstommend mooi en grasieus’ oor Arabier-perde deur ervare perdetelers. Besoek gerus hul webwerf www.jw.org spesifiek https://wol.jw.org/af/wol/d/r52/lp-af/102011125#h=3 vir ‘n volledige berig.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button