Local newsNewsUpdate

Baba Duncan vorder goed na groot operasie

Lewegewende operasie waarvoor baba Duncan Baker amper 'n halwe jaar moes wag, is uiteindelik uitgevoer.

Dit was ‘n lang wag, maar die 16-maande-oue baba, Duncan Baker, se lewegewende operasie het uiteindelik op 30 Oktober plaasgevind. Die aanvanklike datum vir sy operasie was 12 April.

Die operasie waarvoor hy amper ‘n halwe jaar moes wag, is by die Netcare Sunninghill Hospitaal uitgevoer.

Marelize en Duncan Baker.
Marelize en Duncan Baker.

Duncan is met ‘n gebreekte skedel gebore, wat veroorsaak het dat sy brein nie kon groei nie. Daar is gevrees dat hy later in sy lewe nie net gespot sou word nie, maar dat sy ontwikkeling beïnvloed sou word.

Duncan is terug by die huis waar die Herald hom Woensdag (30 November) gaan besoek het. Dit gaan goed met hom.

Chaun, 30, en Marelize Baker, 21 sy ouers, is baie verlig oor die uitkoms van sy breinoperasie. Duncan is oorspronklik in die Coronation Hospitaal (Rahima Moosa Mother and Child Hospital) opgeneem en is daarna na die Netcare Sunninghill Hospitaal verwys.

Marinda van Coller, sy ouma, het gesê, “Die operasie is gratis gedoen aangesien ons dit nie kon bekostig nie. Die dokter het ons ‘n guns gedoen.”

Marelize het bygevoeg, “Die operasie het ‘n senutergende vyf uur geduur. In ‘n stadium het sy hartjie gaan staan en ons kon net bid.”

Baba Duncan Baker glimlag vir die Herald.
Baba Duncan Baker glimlag vir die Herald.

Volgens die Bakers is die dokter baie tevrede met Duncan se vordering na die operasie. Die Herald kon duidelik die verandering in Duncan sien. Hy het vir die kamera gelag en met ‘n klein hondjie gespeel.

Duncan weeg op die oomblik 8,8kg en sy familie is vol hoop dat sy toestand sal aanhou verbeter. Die dokter is net bekommerd dat die twee klein beentjies aan weerskante van sy voorkop dalk ‘n probleem kan wees, maar het die familie gerus gestel dat as dit nie teen April volgende jaar reg is nie, hy ‘n klein operasie sal uitvoer om dit te herstel.

Marelize Baker wys hoe netjies die operasie gedoen is.
Marelize Baker wys hoe netjies die operasie gedoen is.

Die familie, wat al amper ‘n jaar sonder elektrisiteit is en finansieel sukkel, is dankbaar vir Duncan se goeie vordering. Hulle sê ook dankie vir die hospitaal en dokter, en het gesê dat dit alles in God se hande was en steeds is.

Lees ook: 

Klein Duncan se reuse operasie

Baba se lewegewende operasie weer uitgestel

 

Related Articles

Back to top button