Local newsNews

Bejaardes nou warm vir die winter

'Die donasie het net-net betyds gekom'

Bejaardes by Trudy’s Nest het Dinsdag, 12 Julie kospakkies en komberse ontvang wat aan die organisasie geskenk is.

“Die donasie het net-net betyds gekom,” het Trudy Haywood, stigter van dié niewinsgewende organisasie gesê. Volgens haar het die bejaardes al bitter koud gekry dié winter.

Die Toekomsrus Biblioteeksaal, waar die bejaardes twee keer ‘n week bymekaar kom, het behoorlik gegons van opgewondenheid toe die kospakkies aan die lede uitgedeel is.

Die kos is deur Randfontein Publisiteitsvereniging geskenk en so verdeel dat elke bejaarde ‘n behoorlike kospakkie kon kry. Butterfield-bakkery het brode vir die kospakkies geskenk.

“Ons is soos ‘n groot familie hier. Wat ons kry en wat daar is, deel ons en geniet ons saam,” het Trudie gesê.

Komberse van alle kleure is ook aan die bejaardes oorhandig, elk met sy eie toeritssak.

Volgens Trudy stap die bejaardes van hul huise af om by die biblioteeksaal uit te kom. “Dit is soggens baie koud; party loop amper 3km om by die saal uit te kom. Nou kan die oumensies warm bly in die oggend totdat hulle weer moet opstaan om hierheen te kom,” het ‘n dankbaar Trudy gesê.

Trudy het die organisasie in 2000 begin deur vir twee bejaarde vroue te sorg. Na ‘n maand het sy vir vier bejaardes gesorg. Na 16 jaar het die organisasie tot 60 lede gegroei.

“Ek het die behoefte in die gemeenskap gesien, toe roep die Here my om oumense uit my sak te help.”

Vir Trudy is dit belangrik dat die bejaardes uit hul huise kom en vriende maak. Sy meen dit is die rede hoekom die bejaardes so gesond is.

Sy het gesê sy weet nie hoe om die mense vir die donasies te bedank nie. “Jy moet die mensies se gesigte sien om werklike dankbaarheid te verstaan,” het sy vertel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button