Local newsNews

Respek, saam bid en pret hou hulle 60 jaar getroud

Die huwelik is soos 'n wiel en God is die as. Sonder hom sal die wiel nie draai nie.

Daar is geen einde aan Mavis en Hannes Kruger, albei 80, se liefde nie. Hulle het die afgelope naweek hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Die Krugers se onblusbare liefde vir mekaar kan vergelyk word met dié van die fiktiewe Romeo en Juliet, en dié van die musieklegende Johnny Cash en sy vrou June.

Die paartjie het vyf kinders (drie dogters en twee seuns – een seun is in 2014 oorlede), 13 kleinkinders en vier agterkleinkinders. Hulle het mekaar in 1955 in Klerksdorp ontmoet en ‘n jaar later is hulle in die Volle Evangelie Kerk in Randfontein getroud. Hulle woon die afgelope 13 jaar in Vriendskaptuiste.

Albei is kunstig. Hannes doen houtwerk, leerwerk en het selfs ‘n paar koetse met sy eie twee hande gebou. Mavis is ‘n baie talentvolle skilder en skrywer.

Sy het juis pas ‘n boek voltooi wat handel oor hul lewenservarings en al die wonderwerke wat hulle beleef het. Die boek se titel In diens van die Meester spreek vanself aangesien hulle as predikantspaar hul hele lewe gewy het om God en die mense om hulle te dien.

Hul resep vir ‘n gesonde huwelik is dat God die middelpunt moet wees, dat mens mekaar moet respekteer en natuurlik pret hê. Volgens familie is hierdie twee mense gedurig aan die lag en spot, en speel met mekaar soos jong kinders. Hulle is steeds deeltyds in die gemeenskap betrokke as beraders, en doen veral huweliksberading.

Marita Grobler, een van hul dogters het vertel, “Dit is ‘n ongelooflike seën dat my ouers 60 jaar saam kon geniet.

“Elke mens waarmee hierdie warm mense in kontak gekom het is op hul gebedslys en elkeen sal bevestig dat hulle altyd oop harte en oop hande vir almal het. Wat ‘n eer om in so ‘n huis te kon grootword. My ouers was en is ‘n veilige hawe vir ons kinders, familie en vriende. Hul liefde vir mekaar is ooglopend en beslis vir ewig.

“Ons ouers se lewe is ons gunsteling liefdesprokie, beter as Romeo en Juliet wat saam gesterf het … veel beter is dit om ons ouers saam te sien ouer word en steeds hul liefde te sien.”

Die Herald het die volgende vir die paartjie gevra:

• Beskryf jul liefde vir mekaar.

Altwee: Liefde, respek en getrouheid is baie belangrik. Die huwelik is soos ‘n wiel en God is die as. Sonder Hom sal die wiel nie draai nie. ‘n Huwelik sonder pret kan nie gelukkig wees nie. As ons nie pret gehad het nie sou ons nie so maklik deur al die dinge gegaan het nie. Mense sê bid vir jou kinders maar as jy saam met jou kinders bid is daar ‘n verskil.

Mavis: My man het ‘n goeie humorsin.
Hannes: Ek is partykeer met ‘n sirkus getroud.

• Wat irriteer julle van mekaar?

Mavis: Mans maak nie laaie of kaste se deure toe nie. Hy is ook hardhorend.
Hannes: ‘n Vrou het 50 000 woorde per dag en ‘n man net 15 000. As ek van die werk af kom het sy 35 000 woorde oor.

• Byname vir mekaar?

Altwee: Skattebol of skat.

Hannes en Mavis op hul troudag, 60 jaar terug, op 9 Junie 1956.
Hannes en Mavis op hul troudag, 60 jaar terug, op 9 Junie 1956.

 

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

10 jaar saam en nou getroud

Die liefde blom steeds na 50 jaar

Die liefde blom steeds na 50-jaar

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button