Opinion

Ikone van R’fontein ‘n groot saak

Randfontein, jy was 'n skoon, blink Hudson Hornett, jare gelede.

Ikone van Randfontein! Ja, dis ’n groot saak. Ek’t in Randfontein aangekom in 1945, drie jaar oud – gebore in Benoni.

Sedertdien was ek woonagtig in Stubbs, Randfontein, Randgate, Wilbotsdal, Westergloor en is tans in Greenhills. My eerste ikoon was meneer Tom de Ridder – skoolhoof van Laerskool Rapportryer. Ek ’n tjokkertjie, hy ’n meneer! Altyd pynlik netjies, stiptelik en baie regverdig.

Hy’t ons na skool gehou om die terrein skoon te maak en ons beloning – ’n nedrige “Baie dankie, julle is sterre” en vier karamel toffies elk wat hy uit ’n groot bruin boks haal en die toffies is laag vir laag op waspapier vasgeplak.

In daardie selfde tydperk is ek deur ’n baie aangename en dinamiese jong onderwyser onderrig wat baie diep onder jou vel ingekruip het, ’n jongerman Connie Mulder. Naas hom was daar die gryse, wyse heer, meneer Liebenberg – so regop, edel en kenner van als! Dan die twee ‘moeders’ (vir my altans), juffrouens Bouwer en Potgieter.

Hierdie was mense in die ware sin van die woord. As jy yskoud en bibberend in die winter al die pad vanaf die plot geloop het, of papnat gereën het, het hierdie twee moeders gesorg dat jy eers by die reuse buldrende kaggel (voor in die hoek van die klas) gestaan het tot jy warm en droog is.

Ons was nie ryk nie, maar besonders gelukkig. Op die hoek regoor Randgate Spar waar Tops vandag is, het oompie en tannie Zail ’n winkel gehad wat bykans als verkoop het. Oompie en tannie Zail, jode, het beide by die deure van die gaskamers van Auschwitz omgedraai.

Te vol! Hulle sou die volgende gewees het, toe kom bevry die Russe hulle. Dit was so stresvol vir oompie Zail gewees, net daar het hy ’n beroerte-aanval gekry en vir die res van sy lewe was hy half lam in die linkerkant van sy liggaam. Hierdie twee engele het ons as huisgesin van als voorsien en meeste van die tyd ‘op die boek’, sonder huiwering.

Neffens ons plot in Wilbotsdal, so skuins oor die pad waar Hans Dippenaar se Eland Panelbeaters vandag is, was Porter se Scrapyard. Oupa Porter het daar die septer geswaai. Dit was ’n fees om daar rond te dwaal. Enige waardige wrak het daar te beland – dit sou vandag ’n fortuin werd wees!

Ook neffens onder het oom Daan Botha (Afarm Botha – hy’t sy linkerarm verloor) geboer. Hulle was, volgens my beskeie kennis, drie broers – Willem, Daan en Barnie. Ons het verstaan Wilbotsdal is juis na Willem vernoem – Willem Botha se dal. Oom Daan het Hudson Commodores met sessilinder side valve Hurricane enjins gery.

Sulke plat, vinnige, pragtige goed. Oom Daan het ook altyd flat out op die sandpad gejaag met die een arm! Lank nadat hy verby is het die rooi stof nog in die lug gehang op ’n windstil dag. Sou jy loop om iets te gaan koop vir ma by Elandsvlei Stores, by Master of Baardman of Solly, en oom Daan kom verby, sou hy jou oplaai en dit was hemels!

In Randgate was daar oom Pieterse en oom Wessels se kafees, oom Brink het Randgate Apteek besit, en twee manshaarkappersalonne – oom Notnagel en oom Kokkie du Plessis. Pa het sy hare net by oom Kokkie gekap. Saam met oom Kokkie het Vaas, sy broer en Henry, ’n vakleerling gekap. Later het Henry sy eie ding in Randfontein se hoofstraat gedoen en was die haarkapper van die kontrei. Terug na oom Kok. Pa het skofte op die myn gewerk. Die plot het bykans sy hele salaris gevat en ’n fiets was die enigste ryding.

’n Ander engel wat ook vir ’n wyle tussen ons was, was oom Hennie Schoonwinkel. ’n Nederige diener van die gemeenskap. Was ’n keer of wat selfs burgemeester. Nooit, maar nooit verhewe bo sy medemens nie. So beskeie sy merk gelaat. Geliefd oral gewees en so deel van die gemeenskap, oom Hennie.

Twee mense wie vir my goud werd was, was pastoor en tannie De Jager. Dan was daar ons gelyke, ons portuurgroep wat heel moontlik vandag kan en mag uitstaan.

Daar is Boet vd Wath, Billy en Phillip Vermeulen, Dawie en Jan Barnard, Jan Strydom van Denne Oord, Piet Kruger, Rian Griffiths van Jimmy’s Auto Spares, my ouboet en kleinboet Theuns en Spurgeon (spore), Flip vd Merwe. Randfontein het sy grootbekke, bulls***ters en skorriemorries ook gehad.

Randfontein, jy was ’n skoon, blink Hudson Hornett jare gelede. ’n Ware kopdraaier was jy.

Hulle het jou gesteel, jou verwaarloos, jou in die wind en weer gelaat, uitmekaar laat roes onder ’n boom. Ek stort ’n traan oor jou, Randfontein. O, Randfontein.

Related Articles

Back to top button