Opinion

Bejaardes se stryd om liggaam en siel aan mekaar te hou

Baie van hulle se trots weerhou hulle om vir hulp te vra.

My ma is al ’n paar jaar ’n inwoner by ’n ouetehuis.

Ons gesin was so dankbaar toe sy die woonplek gekry het. Die bejaardes is altyd met liefde en simpatie hanteer. Hulle behoeftes was vir die eienaars en/of komitee baie belangrik.

Die afgelope tyd lyk dit egter of die bestuur en/of komitee al hoe meer geldgierig raak. Ons weet nie wie verantwoordelik is vir al die besluite wat geneem word nie.

Die land se inflasiekoers is 6,8 persent. Die inwoners van die ouetehuis se huur word egter met 10 persent verhoog. Uitgawes vir die wooneenhede is minimaal.

Daar is geen verbande om af te betaal nie. Die gewone uitgawes betaal die inwoners self. Daar was wel die afgelope jaar of twee ’n opgradering gewees wat geld gekos het, maar die vorige vyf tot 10 jaar se huurinkomste was seker genoeg om dit te kon dek.

Baie van die bejaardes wat hier bly, het nie ’n oud-werkgewerspensioen wat elke jaar ’n verhoging kry nie.

Hulle leef van rente op beleggingsgeld. As die rente nie drasties verhoog word nie, bly hulle inkomste jaar na jaar dieselfde. (Of word soms nog minder as die regering die rentekoerse verlaag.)

Weens inflasie word baie ander items ook baie duurder. Hulle kan net eenvoudig nie meer bybly nie. Hierdie bejaardes moet elke keer net eenvoudig hul rieme verder sny en met al hoe minder klaarkom.

Dit is ’n groot bekommernis vir hulle en broodgebrek is hul voorland. Baie van hulle se trots weerhou hulle om vir hulp te vra.

Ek en my man probeer help waar ons kan. As gewone middelklas-salaristrekkers met drie kinders waarvoor ons moet sorg, kan ons nie veel help nie.

Ons doen ons deel met die jaarlikse basaar – bak vir die koektafel en kom ondersteun die stalletjies op die dag van die basaar. Ons kollekteer op my ma se lys by die werk en onder ander familielede.

Dink asb aan die behoeftige bejaardes wat nie ryk geërf het van oorlede eggenote(s) nie en wat regtig nou sukkel wanneer julle oor die jaarlikse verhoging besluit.

Related Articles

Back to top button