Local newsNews

Kersvader in lewende lywe

Ontmoet die man wat so lojaal is aan die rol van Kersvader dat hy vir 10 uur sal sit sonder om te roer net om kinders se harte bly te maak.

Die kans dat mens Kersvader voor Desember sien of selfs ontmoet is baie skraal maar hier is hy in lewende lywe. Sy naam is Phillip Swanepoel, 70, en hy is al Kersvader vir die afgelope 11 jaar.

Hy is meestal by die Village Square Winkelsentrum in Randfontein, die Irene Sentrum in Centurion en Key West Winkelsentrum in Krugersdorp.

Vanjaar sal dit sy negende jaar by Key West wees en die plek waar kinders van ver af kom om hom spesifiek te kom sien. Phillip se beroep as Kersvader het begin toe iemand hom gevra het om sy baard te laat groei en Kersvader te speel.

Phillip het toe besef hy kan dit sy werk maak en het toe alle toerusting gekry om foto’s te neem, te laat druk en ook kalenders vir mense te maak. Hy kweek sy baard al sedert hy dertig jaar oud is, en sê, “Kersvader is nie Kersvader as hy ‘n vals baard of hare het nie.”

Phillip geniet sy rol as Kersvader baie aangesien sy kinders almal oorsee woon en hy sy sewe kleinkinders gevolglik baie min sien. Die gemis word beter as hy tyd saam met kindertjies, waarvoor hy so lief is, spandeer.

Phillip se jongste aanhanger was twee jaar oud en sy oudste was ‘n 84-jarige vrou. Dié vrou se vriende het gereël dat sy op haar verjaarsdag op Kersvader se skoot kon sit aangesien sy dit nog nooit kon doen nie.

Phillip en sy vrou, Margaret is al 45 jaar lank getroud. Sy gaan oral saam met hom en help hom soms ook om vir die kinders lekkergoed uit te deel. Hy is so lojaal aan sy rol as Kersvader dat hy van 9vm tot soms 7nm nie een maal uit sy stoel opstaan om iets te gaan eet nie.

Hy is ook baie streng oor sy higiëne en was sy hande elke keer voordat hy aan ‘n babatjie raak. Phillip het vertel mens kry baie ongure Kersvaders wat kort-kort badkamer toe gaan om alkohol te drink, wat onhigiënies op hulself is en kort-kort rondloop. Die kindertjies kom om vir Kersvader te sien en as Kersvader rondloop, word hulle ‘n kans vir ‘n foto saam met Kersvader ontneem.

Phillip se hartjie is baie klein en agter die skerms vra hy nie geld van arm of gestremde kindertjies vir foto’s nie. Hy en sy vrou maak glo ook altyd ‘n plan om vir ‘n minderbevoorregte kind ‘n geskenkie te koop.

“Jy sien gou die verskil tussen kinders se omstandighede. Welaf kinders sal speletjies met die heel nuutse tegnologie as geskenk wil hê, terwyl arm kindertjies selfs vir ‘n pakkie slaapklere sal vra,” het Phillip verduidelik.

Om Kersvader te speel, is nie maklik nie; baie ouer mense sal verby my stap en hul kinders aan die arm van my af wegruk. Een persoon het al vir my gesê: ‘Jou pedofiel’,” het Phillip vertel.

“Kersvader is nie ‘n afgod nie. Ek speel graag hierdie rol om kinders se harte bly te maak en die wonder van Kersfees vir hulle te behou. Ek en my vrou glo vas dat Kersfees oor die geboorte van Christus gaan,” het hy verduidelik.

Phillip is van Vrydag 20 November tot Donderdag 3 Desember by die Village Square Winkelsentrum en dan van Vrydag 4 Desember tot Dinsdag 24 Desember by Keywest Winkelsentrum in Krugersdorp.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

30 Kerswense oor 30 dae!

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button