Local newsNews

Die liefde blom steeds na 60 jaar

'Mense van vandag gee te gou tou op.'

Westonaria — Die Van der Westhuizen-paartjie wat al 60 jaar in Westonaria woon het Donderdag 25 Junie hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Vernon, 84, en Jackie van der Westhuizen, 78, het in 1955 in Middelburg getrou.

Hulle het twee dogters, Yolande Roodt en Verona Fourie. Vernon het vir baie jare by die Libanon-myn in Westonaria gewerk en is bekend as ’n hardwerkende man wie se hande vir niks verkeerd staan nie.

Jackie het laggend gesê, “Die wenresep vir ons huwelik is dat my man weet wanneer om om te draai en weg te loop as hy nie met my saamstem nie.”

Vernon het gesê, “Liefde en respek is die belangrikste aspekte om ’n huwelik te maak werk.”

Hy het verduidelik dat liefde alles oorwin, net soos dit in die Bybel verduidelik word en dat jy eers respek vir jouself moet hê en dan vir jou vrou en medemens.

Jackie se gunsteling eienskap van haar man is dat hy haar met alles in die huis help – onder andere skottelgoed, wasgoed en die vloere was. Hulle doen ook alles saam. Op die vraag wat hul gunsteling tyd saam is, het hulle altwee gelag en geantwoord, “Om saam te eet.”

Vernon het gesê hy hou daarvan dat sy vrou altyd dieselfde is en dat sy darem nie die broek in die huis dra nie.

Jackie het gesê die huwelik is nie altyd maanskyn en rose nie, en meen ’n paartjie moet saamstaan deur die moelike tye want dit bring ’n mens net nader aan mekaar. Sy het gesê mense van vandag gee te gou tou op en voer nie hul beloftes uit wat hulle aan mekaar beloof het nie.

Verona, hul een dogter het gesê, “Ons ouers stel vir ons ’n goeie voorbeeld.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button