Local newsLocal sportNewsSchool sportSchoolsSport

Jannas deel Superreeks met Tuine

'Ek is geweldig trots op my span wat na 'n agterstand van 14 punte in 'n eindstryd moes terugveg'.

Hulle sê om gelykop te speel is soos om jou sussie te soen.

Dit was die geval vir Hoërskool Jan Viljoen (Jannas) se o.16-rugbyspan bekend as die Blou Masjien wie onlangs die Superreeks-trofee met Hoërskool Tuine van Pretoria moes deel nadat hul 24-elk in die eindstryd gelykop gespeel het.

Volgens George Smith, Jannas se afrigter is Tuine deur ‘n bekende rugbyblad aangewys as nommer 21 op die landswye rangorde van spanne.

“Ons het vooraf geweet hierdie gaan ‘n klipharde stryd wees. Ek is geweldig trots op my span wat na ‘n agterstand van 14 punte in ‘n eindstryd moes terugveg om gelykop te speel en te verhoed dat ons met niks huis toe kom nie. Dit het bloed, sweet en trane gevat.”

Die Superreeks sluit in skole van Gauteng, Noord-Wes, Mpumalanga en Limpopo.

In die eindstryd en eerste 20 minute van die wedstryd het Tuine oorheers en in die tydperk 17 punte opgestapel. Jannas het egter nie gaan lê nie en kort voor rustyd ‘n strafskop deur die pale gejaag, ‘n drie gedruk en geslaag met ‘n doelskop. Dit het die telling na 17-10 geneem in Tuine se guns.

Kort na halftyd het Tuine weer onder die pale gaan druk wat die telling na 24-10 geneem het. Met agt minute se speeltyd oor het die Blou Masjien gewys dat hulle ‘n span is met baie karakter en geantwoord met twee pragdrieë wat die telling gelykop gemaak het. Met speeltyd verstreke was die telling 24-24 en volgens die bepalings van die reeks sal die trofee gedeel word.

Die Jannas o.16 rugby span beter bekend as "Die Blou Masjien."
Die Jannas o.16 rugby span beter bekend as “Die Blou Masjien.”

Al was die eindresultaat nou nie heeltemal wat hul wou gehad het nie kan die Blou Masjien breëbors rondloop aangesien hulle gedurende die reeks onoorwonne was. Jannas het ook die verdedigende kampioen, Hoërskool Ligbron met 19-17 uitgeskakel.

Volgens Tamaryn Smith, woordvoerder van Jannas, “Was dit ‘n titaniese stryd.”

Ander uitslae in die reeks vir die Blou Masjien sluit in oorwinnings oor Hoërskool Dinamika wat die knie 26-12 moes buig asook teen Bersig Akademie waar Jannas gemaklik 28-7 baas was.

In die halfeindstryd was dit toe Jannas teen Hoërskool Secunda. In die eerste helfte kon die mannetjies van Randfontein net nie afrond nie alhoewel hulle gedurig op die opponente se doellyn geboer het.

Secunda het toe op een van Jannas se foute gekapitaliseer en was met rustyd 7-0 voor. Smith het toe hard in die kleedkamers gepraat en dit was ‘n heel ander storie in die tweede helfte. Jannas het vroeg gaan druk maar kon nie slag met die doelskop nie en dit was benoude boude tot die einde.

Met slegs 10 sekondes oor het Jannas se vleuel, Pako Mosasi oorgeduik vir die wendrie om sodoende die wedstryd 12-7 beklink.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button