Local newsNews

Dwelmverslaafde op die regte pad

'Ek het eendag met ‘n naald in my arm wakker geword, ek het geweet ek is besig om met die dood te dans.'

Renier Lovelock is reeds vyf weke skoon van dwelms.

Na ‘n 14 jaar lange stryd met heroïen, crystal meth en kokaïen glo Renier hy is na Randfontein gestuur om ander te help voor dit te laat is.

“Ek is in KwaZulu-Natal gebore en het in Vryheid grootgeword. Die eerste dwelm wat ek gebruik het, is deur dokters voorgeskryf toe ek ‘n jong kind was,” het Renier gesê.

As behandeling vir sy ATHV (aandagtekort- hiperaktiwiteitversteuring) is Renier as jong kind op Ritalin geplaas wat hy speels na verwys as kiddies cocaine.

Die skedule 2-medisyne val in dieselfde spektrum as morfien, kokaïen en amfetamien. Ander straatname vir Ritalin is Diet Coke, Poor man’s cocaine, Smarties, Skittles, Vitamin R en R-Ball.

“Niemand vertel vir ouers dat Ritalin ‘n gevaarlike, sterk dwelm is nie. Dit, saam met moeilike kinderjare en verkeerde vriende het na sterker dwelms gelei,” het Renier verduidelik.

Renier was skaars mondig toe hy met sterker dwelms begin eksperimenteer het.

“Ek het eendag met ‘n naald in my arm wakker geword. Ek het geweet ek is besig om met die dood te dans maar ek kon myself nie keer. Ek het baie dinge gedoen waarop ek nie trots is nie, maar my laagste punt was toe ek my vrou en dogtertjie verloor het.

“My vrou kon dit net nie meer hanteer nie en ek was ‘n baie slegte invloed op my kind. Ek het hulle in die skelm, vuil en gevaarlike omstandighede geplaas en was nie verbaas toe sy geloop het nie,” het Renier hartseer vertel.

Renier se keerpunt was toe hy vyf weke gelede amper dood is aan ‘n oordosis heroïen.

Volgens hom het die polisie by sy gehuurde woonstel opgedaag om dit te deursoek vir dwelms. In ‘n paniek het Renier al die dwelms ingesluk wat hy in die woonstel gehad het.

“Ek het die polisie vertel ek het die dwelms ingesluk, en alhoewel hulle my nie toegesluit het nie, het hulle my ook nie gehelp en hospitaal toe geneem nie,” het Renier vertel.

Renier het baie deurmekaar die strate ingevaar.

“Ek het nie geweet wat om my aangaan nie maar op een of ander manier het ek by die Vryheid Polisiestasie uitgekom. Die beamptes daar was baie vriendelik en het vir my ‘n kamer gegee waar ek kon ‘afkom’. Hulle het my soos ‘n mens behandel en nie ‘n dwelmverslaafde of krimineel nie,” het Renier vertel.

‘n Raadop Renier het duimgegooi na sy ouma se huis in Utrecht waar hy ‘n paar dae gebly het.

‘n facebook-vriendin het hom toe van die Turn To Eternal Hope Centre (TTEHC) op ‘n plaas net buite Krugersdorp vertel wat dwelmverslaafdes op die regte pad help.

“Ek het ander rehabilitasiesentrums ook gebel maar van die sentrums het tot R80 000 gevra vir behandeling. Edward van Schalkwyk, stigter van Turn To Eternal Life Ministries (TTEL) het vir my gesê hy en sy span is nog nie klaar met die plaas nie maar ek is welkom om solank Gauteng toe te kom en die projek te help afskop,” het hy verduidelik.

Renier het God by TTEHC gevind en het vertel, “Ek het myself en my roeping gevind en het nog nie vir een oomblik na dwelms gesmag nie. Ek weet ek moet my storie vertel en my ervarings gebruik om mense te help met hul dwelmverslawings.”

Renier het binne ‘n maand van ‘n 45kg-dwelmverslaafde in ‘n gesonde, glimlaggende man verander en weet sy vriende en familie gaan hom nie eers herken nie.

Renier fokus nou al sy tyd en ywer daarop om mense te help. Edward het self gesê Renier doen groot bekeringwerk in Randfontein.

“Ek is hier om my liggaam, my verstand en my gees te genees, dan gaan ek daaraan werk om my vrou en my kinders terug te kry,” het Renier bygevoeg.

As jy of iemand wat jy ken ‘n probleem het met dwelms kan Edward by 079 127 9054
gekontak word.

Related Articles

Back to top button