Local sportSport

Teine gee Alexandra slae

Tuisspan klop besoekers met 'n oortuigende beurt en 72 lopies.

Randfontein se premier krieketspan het die afgelope naweek vir Alexandra in ‘n 60-beurt kragmeting ‘n les op die krieketveld geleer.

Die tuisspan het met ‘n oortuigende beurt en 72 lopies geseëvier.

Die Alexandra-span wat ‘n uur laat was is eerste ingestuur om te kolf. Teine het vinnig die paaltjies van Monde Ngejane, Chris Mokale en Bongani Nkosi laat kantel – al drie met nul langs hul naam. Dit het die besoekers gestuit en is in hul eerste kolfbeurt uiteindelik vir slegs 126 uitgeboul.

Teine se Christian Michalwosky het 11 beurte afgestuur, drie paaltjies geneem en slegs 31 lopies afgestaan terwyl Malcom Faddy met boulsyfers van 11 boulbeurte; vier paaltjies vir slegs 25 lopies gespog het.

Teine se Terence Byrne was duidelik lus om te kolf en het 151 van 82 balle (nege sesse en 11 viere) gemoker. Hy het sy hondertal in slegs 56 balle bereik. Hy was ook man van die wedstryd.

Met die wedstryd in hul beheer het Teine met die telbord op 250 vir 2 besluit om te verklaar. Alexandra is toe weer ingestuur maar kon slegs ‘n telling van 52 vir 5 haal.

In ander nuus het die klub SU 9-span ook Sondag teen Orange Farms op Jan Viljoen se velde kragte gemeet en met meer as 100 lopies geseëvier – wedstryd geskuif as gevolg van die Randfontein Skou wat die B-Veld begin voorberei het vir Woensdag se opening van die skou.

Randfontein het eerste gekolf en 191 lopies aangeteken met Werner Pretorius wat ‘n puik 89 lopies kon aanteken. Hy was goed ondersteun deur Jason Kruger se 47 lopies.

Orange Farms is toe almal uitgeboul vir 81 lopies met Teine se Michael Kruger wie vier paaltjies geneem het in sy vyf boulbeurte. Hy het ook slegs 13 lopies afgestaan.

Die span se afrigter, Clint Kruger en kaptein Reghard Lubbe het gesê dat hul albei baie trots is op die span wat bo aan die ranglys lê.

Related Articles

Back to top button