Local newsNews

Plotdiersiektes – Wat boere moet weet

Randfontein Dierehospitaal verduidelik hoekom skape, beeste en hoenders op plotte meer geneig is om siektes van wurms en insekte op te tel.

Hierdie tyd van die jaar is daar ‘n toename aan wurms en insekte, so pas jou diere soos goud op.

Volgens Dr Hendrik Naudé van die Randfontein Dierehospitaal is skape, beeste en hoenders op plotte meer geneig om siektes van wurms en insekte op te tel.

“Op plotte wy die diere heeltyd op dieselfde area waar hulle dan mus en wurms en ander insekte lok,” het Naudé verduidelik.

Bloutong is ‘n siekte wat by skape ontstaan. Dit word laatsomer en herfs deur muggies oorgedra en kan met inenting voorkom word. Die virus kom ook in die winter by beeste voor, wat simptoomlose draers is.

Daar is 24 stamme van die virus in Suid-Afrika en die lewende entstof word in drie groepe verdeel naamlik A, B en C, wat elk met ‘n drie-weke tussenpouse gespuit word. Inenting behoort vroeg lente gedoen te word. Ramme en ooie moet nie korter as agt weke (laaste fraksie – C) voor die teelseiesoen ingeënt word nie, en ooie nie as hulle dragtig is nie. Indien daar ‘n noodtoestand is kan hulle die laaste helfte van dragtigheid (met risiko) geënt word. Lammers jonger as vyf maande behoort nie geënt te word nie.

Tydens ‘n uitbraak moet diere na hoër liggende dele van die plaas verskuif word, weg van staande water waar insekte volop is.

Diere wat Bloutong het, het seer spiere, is liggevoelig, koorsig en ontwater. Bloutong stem baie ooreen met griep by mense. ‘n Koorsreaksie veroorsaak aborsies en ‘n breek in die wol.

Die skape se bekke en tonge is gewoonlik te seer om te vreet en hul pote te seer om te loop, maar sere in die mond en ‘n blou tong is nie altyd teenwoordig nie. Siek diere kry dikwels sekondêre longontsteking wat dan die oorsaak van dood is. Goedversorgde bloutonggevalle oorleef gewoonlik.

“By beeste kry mens dan ook Stywe Siekte en Knopvelsiekte. Hoenders kan ook deurloop en dit is waarom dit so belangrik is om plotte met wurm middele te spuit. As daar gespuit word en die diere raak nog steeds siek, moet die aktiewe bestandeel in die middel verander word om te keer dat die wurms nie umien raak teen die gif nie,” het Naudé verduidelik.

Met beplanning, inenting en grondvoorbereiding kan ploteienaars hul diere gesond en gelukkig hou deur die warm somer maande.

Die inligting wat hier bespreek is, is slegs bedoel as algemene riglyne en u moet altyd u veearts raadpleeg vir advies.

Inligting verkry van www.rchiledefrance.co.za

Related Articles

Back to top button