Local newsMunicipalNews

Boere en besoekers wil Randfontein boikot

'Slaggate op R41 Ventersdorp-pad onaanvaarbaar'

Boere en besoekers wat die R41-pad gebruik is op die punt om Randfontein te boikot omdat die pad en sy slaggate so gevaarlik is.

“Die R41 is ‘n gevaar vir elkeen wat dit waag om dié geruïneerde pad na en van Randfontein te gebruik. As dit reën is dit soveel erger. Ons boere en ander motoriste wil Randfontein heeltemal boikot,” het Hennie Retief, wat jare lank net buite die dorp woon, gesê.

Retief is nie die enigste een wat die herald gekontak het oor die pad se toestand nie. Lientjie Barnard het ook geskakel nadat sy reeds vier bande moes vervang weens die slaggate in die pad.

“Die skokkende toestand van die pad is absoluut onaanvaarbaar. Dit kos my meer as R2 000 ‘n band en dit is nie eers die skade aan my motor se onderstel nie,” het Barnard ontsteld verduidelik.

Die pad loop by Johan Reynecke van Reynecke Transport se huis verby. Hy weet presies hoe groot impak trokke en swaar voertuie op die verbrokkelende teerpad het.

“Die voertuie wat die pad gebruik moet vir die slaggate uitswaai anders kry hulle skade. Trokke kan nie uitswaai nie en die gevaar van ‘n ongeluk is groot,” het Reynecke gesê.

Motoriste se algemene opinie is dat die probleem vererger as dit reën.

“Water lê vir dae lank op die pad en laat dan die teer verbrokkel. Dit raak baie gevaarlik omdat mens nie die slaggate onder die water kan sien nie. Dit is wanneer ongelukke gebeur of bande beskadig word,” het Retief bygevoeg.

Volgens Retief en Barnard is dit veiliger om Carletonville toe te ry vir inkopies en petrol. Volgens hulle is dit die siening van talle ander mense wat in die omgewing bly en die pad gebruik.

“Ons betaal belasting; waar gaan daardie geld heen en waarvoor word dit gebruik as dit nie vir die herstel van paaie is nie? As die munisipaliteit net vir padgebruikers kan sê wat hul plan van aksie is, sal dit mens half moed gee, maar ons vrae val op dowe ore,” het Retief verder gesê.

Retief sê hy het ‘n paar weke gelede vir Peter Matabula, die Direkteur van Paaie en Infrastruktuur in Randfontein gekontak. Nadat hy ‘n paar vrae oor die paaie gevra het, is hy glo vertel dat die inligting nie vir die publiek se ore bedoel is nie en dat die begroting bo sy vlak is. Hy het glo ook vir Retief gesê hy is ongeskik.

“Ek wou net weet wat hulle plan met die pad is en hoe lank ons moet wag. Ek was nie ongeskik nie,” het Retief gesê.

Die herald mag glo nie vir Matabula direk kontak vir kommentaar nie, maar het wel vir Lucky Chiya, die munisipale woordvoerder gevra vir terugvoering oor die saak en hulle herstelplanne.

Related Articles

Back to top button