Local sportSportUpdate

Teine-jonges oordonder Union

Die manne van Randfontein Jeug Rugbyklub het weer koning gekraai tydens hul tuiskragmetings teen Union Rugbyklub.

Randfontein Jeug Rugbyklub beïndruk weer, dié keer teen Union.

Volgens die sekretaresse van Randfontein Jeug Rugbyklub, Leonie du Buson het kragmetings tussen die twee klubs op 13 September by die Greenhills Sportsgronde plaasgevind.

“Die spelers van Randfontein was vuur en vlam om hulself teen Union te bewys en met die tuisvoordeel was dit presies wat hulle gedoen het,” vertel Du Buson.

Die o.9’s het in hul eerste kragmeting die dag Union met 55-0 afgeslag en die tweede ook gemaklik met 40-10 gewen.

Ongelukkig het Randfontein se o.11-span hul eerste kragmeting met 21-17 verloor, maar in die tweede stryd daarvoor opgemaak en met ‘n telling van 12-7 geseëvier.

Randfontein se o.12’s het slegs een wedstryd vir die dag gespeel en dit met 45-5 gewen. Die o.13’s het skoonskip gemaak en het in beide hul kragmetings wegholseges van 63-0 en 72-0 behaal.

Die o.10’s het op die dag teen Harlequins van Pretoria te staan gekom, maar moes die knie buig met ‘n 7-8 telling.

Die klub se laaste tuiswedstryd van die seisoen sal teen Pirates op 27 September wees.

Related Articles

Back to top button