Local newsNews

VLU weer hard aan die werk

Vroue van die VLU wys hoe mens plastiekblomme maak.

Die Vroue Landbou-Unie (VLU) Ridderspore-tak het tydens hul Augustus-vergadering met skêr in die hand pragtige blomme uit koeldrankbottels gemaak.

Volgens die voorsitter van die tak, Gerda Benadie, is dit die VLU se doel om vroue in die gemeenskap op te lei in allerhande selfdoenprojekte.

Sy vertel dat sy maandeliks verskillende projekte saam met haar lede aanpak.

“Dié maand het ons pragtige blomme uit herwinbare koeldrankbottels gemaak,” sê Benadie.

Dié blomme is in allerhande groottes en vorme gemaak, en die lede van dié tak het elke oomblik van die geleentheid geniet en ook sommer lekker saam gekuier.

Benadie vertel verder dat dié klas op 7 Augustus plaasgevind het en dat sy self die klas aangebied het. Sowat 17 lede en beskoekers het die klas bygewoon.

“Die vergadering was ‘n reuse sukses en elkeen teenwoordig het met allerhande snaakse en uitstekende idees vir hulle blomme vorendag gekom,” vertel Benadie.

Die VLU Ridderspore-tak se volgende vergadering sal op Donderdag 4 September plaasvind. Benadie vertel dat hulle nog nie besluit het wat die tema van dié vergadering gaan wees nie, maar sy nooi steeds die vroue in die gemeenskap om by die tak en hul doen en late betrokke te raak.

Vir meer inligting oor dié tak en hul maandelikse vergaderings, skakel gerus vir Gerda Benadie by 083 995 6571.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button