NewsSchools

Rappies se pom-poms stel voorbeeld

Laerskool Rapportryer se pom-pom-dansers maak hul merk by elke geleentheid.

Laerskool Rapportryer se pom-pom-dansers het mense oral aan die praat.

Nie net kwalifiseer die uitstaande groep dogters vir meer as drie komende en top kompetisies nie maar spog ook vanjaar met ‘n toekenning vir uitnemendheid tydens die 2013 Randfontein Skou.

Roleen Olivier, skakelbeampte van Laerskool Rapportryer het die span se sukses verduidelik.

“Dié groep het hul jaar afgeskop met ‘n optrede by die Randfontein Skou en tydens dié geleentheid het die groep ‘n spesiale toekenning vir uitnemendheid ontvang,” vertel Olivier.

“Die groep het ook tydens Hoërskool Riebeeckrand se Fiesta opgetree en in Mei hulself met ‘n D2 Drummies-werkswinkel verryk.”

Gedurende die afgelope Tshwane Youth Arts Festival (TYAF) se uitdunne is die span ook gekeur om op Maandag 18 Augustus by die Pretoria Staatsteater op te tree.

“Dit is voorwaar ‘n groot prestasie en beslis ‘n hoogtepunt in die groep se seisoen,” vertel Olivier.

Verder is dié groep volstoom besig om voor te berei vir die D2 Drummies-kompetisie wat op 2 Augustus by Laerskool Rapportryer sal plaasvind.

“Gedurende verlede jaar se D2-kompetisie wat op 7 Junie by Rockland Primary gehou is, het ons weggestap met ‘n algehele eerste plek. Dié groep se afrigter, Leandi Minnaar is oortuig dat die span op 2 Augustus weer ‘n eerste plek sal behaal,” vertel Olivier.

Die Rappies pom-poms sal ook vanjaar aan die Raca Eisteddfod, die Nasionale Eisteddfod en die D2-kampioenskappe deelneem.

“Baie dankie vir julle harde werk. Ons almal by Laerskool Rapportryer is werklik trots op julle,” vertel Minnaar.

Related Articles

Back to top button