Local newsNews

Biltong en Brood aand ‘n reuse sukses

Manne van die Woord gesels rugby en geloof tydens hul Biltong en Brood aand saam met groot name in die rugbykringe.

Manne van die Woord, Randfontein tak, het ‘n suksesvolle Biltong en Brood-aand by Hoërskool Jan Viljoen aangebied en die gemeenskap die geleentheid gegee om rugby en geloof saam met van Suid-Afrika se grootste rugbygeeste te kom gesels.

Volgens die voorsitter van Manne van die Woord se Randfontein tak Flip Engelbreght, het talle mans die aand bygewoon en sommer lekker saam met oud-Springbok-rugbyspeler, Vleis Visagie en die huidige Springbok-agtsteman, Pierre Spies gekuier.

“Ons het die aand gereël om manne in die gemeenskap te motiveer om hul plek in die samelewing in te neem en ‘n verskil vir Jesus te maak,” vertel Flip.

Met die opening van die aand het Flip en sy span die Golfdag, wat vroeër die dag plaasgevind het, se prysuitdeling behartig waarna Dawie Spies vir Pierre en Vleis op die verhog verwelkom het en lekker met hulle gesels het.

Die aand was ‘n reuse sukses en die gehoor het behoorlik aan Vleis en Pierre se lippe tydens die insiggewende kletssessie gehang.

“Pierre en Vleis het lekker saam met Dawie Spies gesels en hul mening oor verskeie aspekte van vandag se lewe gegee.

Die menings het die gehoor geïnspireer om hul kinders te ondersteun in alles wat hulle aanpak en God se wil in alles raak te sien,” vertel Flip.

Na afloop van dié kletssessie het Dawie vir elke man, vrou en kind in die gehoor die geleentheid gegee om op te staan vir Jesus.

Die gehoor het die geleentheid met beide hande aangegryp en soos een man in God se naam opgestaan om ‘n verskil te maak.

Die welbekende gospelsanger Wian Vos het gaste met ‘n liedjie of twee vermaak en selfs Pierre Spies het ‘n mikrofoon gegryp en saam met Wian sy nuutste treffer, Ons like Rugby, gesing.

“Ek wil vir elke persoon wat die aand bygewoon het dankie sê vir hul belangstelling.

“Julle teenwoodigheid het beslis die aand se sukses verseker,” vertel Flip.

Related Articles

Back to top button