Local newsNewsSport

Rotariërs loots ‘n ultra-fietstoer

Die Rotariërs doen nou 'n beroep op die gemeenskap om deel te wees van hul eerste ultra-fietstoer.

Verskeie dorpe en stede in Suid-Afrika en Namibië gaan deel wees van ’n nege dae fietstoer, waartydens die ryers verskeie gemeenskapsprojekte gaan besoek.

Rotariërs en ywerige fietsryers gaan 1609km in die eerste jaarlikse fietstoer aflê.

Die toer staan bekend as die “Rotary Tour Deux Déserts” – Toer van twee woestyne: die Namib en Kalahari.

Die toer begin op18 April by Maropeng net buite Krugersdorp. Die eerste skof sal in Klerksdorp eindig.

Die fietsryers word vergesel deur ’n kameraspan en ondersteuningsgroep wat na hulle sal omsien.

Fondse wat ingesamel word deur middel van borge en ondersteuners, sal gebruik word om veeldoelige sportvelde by skole in agtergeblewe gemeenskappe te bou.

Dit sal kinders die geleentheid bied om verskeie sportsoorte te beoefen in ’n veilige omgewing. Deur ander skole in die omgewing uit te nooi skep dit ook die geleentheid vir sport kompetisies.

Die Rotariërs Fietstoer bied individue, besighede en die koöperatiewe sektor die geleentheid om betrokke te raak by die kinders in hulle gemeenskappe. Deur sport kan gemeenskappe kinders help oplei en sodoende hulle ’n beter kans gee in die lewe.

Die Suid-Afrikaanse Polisie het onlangs ’n nasionale anti-dwelm projek geloods en die toer ondersteun die projek ten volle.

Toerlede gaan brosjures uitgee by skole op die roete en so die bewusmaking aanhelp.

Die Departemente van Justisie, Korrektiewe Dienste en Gesondheid is ook by die projek betrokke.

Die burgemeester van Mogale City, Calvin Keketso Seerane, gaan met die fietsryers ’n boodskap stuur aan die burgemeester van Lüderitz, Hambelela Suzan Ndjaleka.

Dit is simbolies van die ou gebruik om boodskappe met die hand af te lewer, en Maropeng verteenwoordig die begin van die mensdom.

Die hele toer word verfilm vir ’n dokumentêre weergawe van die daaglikse gebeure op so ’n toer.

Dit sal ook historiese plekke op die roete en van die skole insluit.

Een van die ondersteuners van die projek, Safe Sport Tracking, maak seker dat die gebeurtenis op die internet gevolg kan word deur middel van Google se kaarte. Dit sal ’n lewendige opdatering wees wat elke paar minute sal aanpas.

Dan is die energiedrankies en kos volledig geborg en Maropeng het die basis geword van die jaarlikse toer.

Die Rotariërs beoog om die toer so uit te brei dat hulle enige plek in Suid-Afrika ’n projek kan ondersteun met behulp van die borge en fietsryers wat bereid is om terug te gee aan die gemeenskap.

Rotary Internasionaal is ’n wêreldwye organisasie wat gemeenskappe dien met meer as 1.2 miljoen lede in meer as 200 lande.

Rotariërs bied hulle dienste en tyd aan minderbevoorregte gemeenskappe om ’n verskil te maak in hulle leefwyse.

Die Klub betrokke by die toer is NPO geregistreer en glo in deursigtigheid.

Indien jy sou belangstel om die toer te ondersteun is daar verskeie maniere om dit te doen, van ’n borg per dag tot enige van die vele items op die wenslys.

Indien jy belangstel om ‘n borg te wees of ’n donasie te maak, kontak Steve du Plessis by steve@rotarycycletour.org of 082 893 4211.

Mense kan ook hul webwerf by www.rotarycycletour.org besoek.

Related Articles

Back to top button