MunicipalNews

Kragkabel slote ‘n gevaar vir inwoners

Die slote is al in Oktober gegrou en steeds is daar geen teken van die beloofde nuwe elektriese kabels nie.

Inwoners van Da Gamastraat in Culemborgpark is op die oorlogpad aangesien slote wat maande gelede deur die Randfontein Plaaslike Munisipaliteit gegrou is, blykbaar om nuwe elektriese kabels aan te lê, steeds nie toegegooi is nie.

Volgens een van die inwoners van die area, Lizanne van Wyk, is die slote is oral op die sypadjies van Da Gamastraat gegrou en tot dusvêr is daar geen tekens van die beloofde elektries kabels nie.

“Kriminele kan maklik in die slote wegkruip sonder dat ons as inwoners dit weet en ons aanval wanneer ons dit die minste verwag,” vertel Van Wyk.

Sy vertel verder dat hulle al verskeie kere probeer het om met die bestuurder van die elektriese afdeling van die munisipaliteit in kontak te kom, maar hul pogings het geen vrugte afgewerp nie.

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat die slote al vir so lank ooplê.

“Behalwe vir die gevaar wat dit vir ons as inwoners inhou, is dit ook ‘n seer oog in die area.

“Die munisipale werkers het ook nie eers die moeite gedoen om die plaveisel of sypadjies behoorlik en netjies te herstel nie,” vertel Van Wyk.

Sy vertel verder dat hulle sowat twee weke gelede met met DA wyksraadslid, Craig Harrison in kontak gekom het.

“Harrison het dadelik probeer om werk van die situasie te maak en het ons ingelig dat die munisipaliteit die slote sal kom opvul tot hulle die nodige toerusting het om die kabels te lê, maar die slote is steeds nie herstel nie,” vertel Van Wyk.

Volgens die skakelbeampte van Randfontein Plaaslike Munisipaliteit, Lucky Chiya, sal die Randfontein Plaaslike Munisipaliteit die saak ondersoek.

Related Articles

Back to top button