NewsSchools

Jannas geniet hul huissport byeenkoms

Hoërskool Jan Viljoen atlete geniet hul gate uit tydens hul jaarlikse huissport atletiekbyeenkoms.

Hoërskool Jan Viljoen het weer op 17 Januarie hul jaarlikse huissport-atletiekbyeenkoms aangebied en met talle atlete wat hul staal gewys het, was die geleentheid weereens ‘n reuse sukses.

Volgens die hoof van Hoërskool Jan Viljoen, Julius Katzke, het al die jannas-atlete weer met groot ywer sake teen mekaar in beide baan- en velditems uitgespook om sodoende ‘n plek in die interhoër-atletiekspan te behaal.

“Die dag was ‘n reuse sukses en terwyl ons leerlinge en derigente vir ‘n puik atmosfeer gesorg het, het die atlete die hitte trotseer en mekaar die stryd in elke item aangesê,” vertel Julius.

Hy vertel verder dat die derigente vanjaar baie moeite gedoen het om ‘n puik gees te verseker.

Sommige van die derigente het selfs so ver gegaan om as gewilde TV karakters soos Spongebob Squarepants en die Minions aan te trek.

“Baie dankie aan elke leerling wat die dag bygewoon het asook aan elke atleet en derigent wat tydens die geleentheid deelgeneem het.

“Julle het net weereens gewys waarom Jannas so ‘n puik skool is,” vertel Julius ten slotte.

Related Articles

Back to top button