Local sportSport

Randfontein Hokkieklub gereed vir ‘n groot jaar

Met die groot sukses wat Randfontein Hokkieklub gedurende 2013 geniet het, is dié klub gereed om 2014 by die horings te pak en sukses te behaal.

Die Randfontein Hokkieklub het in 2013 alle verwagtinge oorskry en hoop om die komende jaar nog groter hoogtes te bereik.

Volgens die Voorsitter van die klub, André Croukamp, het Randfontein Hokkieklub se seunsspanne in hul onderskeie ligas ‘n algehele tweede plek behaal en sal dus vanjaar in ‘n sterker liga meeding.

“Aangesien ons almal ‘n groot liefde vir hokkie deel, nooi ons alle hokkieliefhebbers in die gemeenskap om saam met ons dié sport in klubverband te kom beoefen,” vertel André.

Hy vertel verder dat daar ‘n tekort aan veral vroulike spelers by die klub is aangesien hulle beoog om vanjaar ‘n vrouespan op die been te bring.

Volgens die spelerverteenwoordiger van die klub, Duane Koekemoer, het hulle die klub reeds in 2012 gestig, maar eers in 2013 die eerste keer aan ‘n ligakompetisie deelgeneem.

Die liga staan as die Suid-Gauteng Hokkieliga bekend.

“Sommige van die klublede is al reeds besig met voorbereidings vir die 2014 seisoen, maar ons sal gedurende Februarie amptelik begin oefen vir vanjaar se liga,” vertel André.

André doen ‘n beroep op alle hokkiespelers in die gemeenskap om met hom in kontak te kom en by die klub aan te sluit.

Vir meer inligting rondom die klub, skakel gerus vir André Croucamp by 083 313 3393 of besoek hul facebook-blad by Randfontein Hockey Club.

Related Articles

Back to top button