NewsSchools

Rappies vier ‘n suksesvolle jaar

Die hoof van Laerskool Rapportryer, Karel Stoop, wens elke Rappie geluk met 'n puik jaar en groet hulle met voorspoed vir die feesseisoen.

“Die jaar 2013 is vinnig besig om uit te loop. As ‘n mens terugkyk is ons skool baie dankbaar vir soveel seën en voorspoed wat ons kon beleef. Dit is onverdiend en slegs genade van ons Skepper.”

Dit die woorde van Laerskool Rapportryer se hoof, Karel Stoop.

Rapportryer se visie, ‘Wenners vir more’ het weereens gelei om met toewyding en ywer hul leerlinge toe te rus vir die toekoms. Die personeel se positiewe ingesteldheid om uitdagings te sien as geleenthede en hulle liefde vir die leerlinge, het hulle die ekstra myl vir die leerlinge laat loop.

“Rapportryer is bevoorreg om ‘n span bekwame personeel te kan hê. Baie dankie aan die personeel vir hulle harde werk en toewyding om alle leerders ‘n geleentheid tot sukses te kon bied,” vertel Karel.

Rapportryer se leerlinge het op talle terreine sukses behaal en was in hulle optrede vasberade om die wenpaal te bereik. Die skool is werklik baie trots op sy leerlinge vir hul bydrae die afgelope jaar.

“Die suksesse wat ons bereik is ‘n spanpoging van personeel, leerlinge en ouers. Rapportryer se ouers is voorwaar staatmakers wat die skool en hul kinders ondersteun. ‘n Mens kan met reg sê dat ons ouers werklik omgee, nie net vir die skool nie maar ook vir hulle gemeenskap. Talle suksesvolle projekte vir ons gemeenskap getuig daarvan,” vertel Karel.

Rappies wens elke personeellid, ouer en leerling ‘n heerlike vakansie toe en glo dat almal veilig in 2014 terug sal keer.

“‘n Geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwe Jaar is ons wens vir elkeen en mag ons 2014 weereens ‘n besondere jaar maak.”

Related Articles

Back to top button