NewsSchools

RCA maak opslae by Raca

RCA se leerlinge spog met puik resultate tydens vanjaar se Raca kunstefees.

Die leerlinge van Randfontein Christian Academy (RCA) het vanjaar hul talente tydens die Raca kunstefees ten toon gestel en spog met puik resultate tydens die kunstefees.

Volgens ‘n verteenwoordiger van RCA, Sonja van Tonder, het dié skool vanjaar drie dansgroepe by die Raca kunstefees ingeskryf.

“Die Raca kunstefees het gedurende Augustus plaasgevind en ons leerlinge het werklik goed tydens die geleentheid gevaar,” vertel Sonja.

Sy vertel dat die dansgroepe almal Christelike danse uitgebeeld het en dat Pastoor Chrisna Grobler van AGS Randfontein gemeente dié groepe afgerig het.

Dié drie dansgroepe van RCA wat deelgeneem het bestaan uit een senior groep en twee junior groepe. Die senior groep is almal leerlinge van RCA se hoërskool afdeling terwyl die junior groep uit leerlinge tussen Graad 5 en 7 bestaan.

“Ons senior groep het die beoordelaars beslis beïndruk en spog met ‘n diamant toekenning tydens die geleentheid.

“Die Graad 7 groep spog met ‘n goue toekenning terwyl die dansgroep wat uit Graad 5 en 6 leerlinge bestaan het, ‘n silwer toekenning ontvang het,” vertel Sonja.

“Ons is baie trots op dié leerlinge en wens elkeen van hulle baie geluk met hul prestasie.”

Die bestuur van RCA bedank vir Pastoor Chrisna vir haar hulp tydens die afrigting.

Related Articles

Back to top button