CrimeLocal news

Verkleurmannetjie by bekende Tarlton-kruising gered

Die RandWes DBV en National Crime Assist het onlangs ingegryp om 'n verkleurmannetjie in die Tarlton-omgewing te red.

Die RandWes Dierebeskermingsvereniging (DBV) het onlangs ingespring en gehelp om nog ‘n pragtige wildedier se lewe uit die verkeerde hande te red.

RandWes DBV inspekteur Rene van Straten het vertel dat ‘n lid van die publiek op Donderdag, 27 Oktober ingebel het oor iemand wat ‘n verkleurmannetjie by die R28 en N14-kruising in Tarlton probeer verkoop.

“Ons het die persoon dadelik gearresteer met die hulp van Beyers van Staden van National Crime Assist [‘n vrywilliger wat privaat reddingswerk doen]. Die persoon is toe dadelik na die Tarlton polisiestasie geneem.”

Sy het vertel dat die verkleurmannetjie nou by die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital is waar hy die nodige behandeling kry en gerehabliteer sal word om weer teruggeplaas te word in die natuur waar hy hoort.

Volgens Rene het hul besluit om te help want nie net is dit onwettig om inheemse wildediere aan te hou en te verkoop nie, maar diere wat van die onwettige handelsmark af kom gaan gewoonlik verskriklike trauma deur omdat hulle uit hul natuurlike habitat verwyder word. Die beskuldiges wat hul probeer verkoop het ook geen kennis oor hoe om hulle ordentlik te versorg nie en gee ook nie eintlik om vir die dier se welstand nie omdat hulle net wil geld maak.

“Verkleurmannetjies is ‘n beskermde spesie in Suid-Afrika en kom voor in meeste provinsies. Volgens die Transvaal Nature Conservation Ordinance, mag jy hulle glad nie aanhou, en vir seker ook nie verkoop nie. As hulle welstand in enige manier benadeel is tree die Wet op Dierebeskerming van 1962 ook in.”

Sy het verduidelik dat daar natuurlik bekommernisse soos hitte-uitputting en die omstandighede waaruit hulle kom, is. Sy gebruik die voorbeeld van honde wat geteel word net sodat mense die hondjies kan verkoop om geld te maak – hulle het geen intensie om waarlik na die diere om te sien nie.

“Dit is ‘n probleem waarmee ons en al die omliggende diere welsynsorganisasies al ‘n geruime tyd mee sukkel. Daar is mense al in 2015 aangekla vir dié tipe krimnele oortredings by dieselfde kruising. Hierdie is ‘n baie bekende area en dit kom gereeld voor by besige verkeersligte, kruisings en parkeerareas van baie besige winkelsentrums.”

Rene waarsku dat dit belangrik is om hulle nie te ondersteun nie al wil mens gewoonlik net die arme dier uit die omstandighede red en dan maar die R50 of so wat hul vra te betaal.

“Maar dan word jy net deel van die probleem. Solank as wat daar ‘n mark is, vir so lank gaan dit aanhou.

“Daar is ongelukkig geen wette teen die koop en verkoop van huisdiere soos honde en katte nie – die DBV kan net geraadpleeg word of help met die onderig daarvan. Al wanneer die DBV intree is wanneer daar fisiese skade aan die diere aangerig word of duidelike tekens is dat die diere siek of beseer is, of ly aan enige vorm van uitputting. Inheemse diere soos verkleurmannetjies en skildpaaie, wat die mees algemeeste wildediere is wat gekoop/ verkoop word, is aan die anderhand onwettig om aan te hou en te verkoop.”

Volgens Rene vra hul winkelsentrums om dit nie op hulle perseel en parkeerareas toe te laat nie en die mense weg te jaag en om die naaste diere welsynsorganisasie in te lig. Daar kan ook raad gegee word oor hoe om die situasie te hanteer om die diere te help indien die DBV nie dadelik self kan reageer nie.

“Ons het ook gewoonlik hulp van die publiek nodig om soms die nodige bewyse in te samel en op te staan vir die diere.”

Beyers van Staden van NCA wat die arrestasie gemaak het saam met RandWes DBV inspekteur Rene van Straten. Foto ingestuur.

Related Articles

Back to top button