NewsSchools

Riebeeckrand se Kayla oor haar toekomsplanne na matriek

Kayla Joubert, wat onlangs aan Hoërskool Riebeeckrand gematrikuleer het, het vertel hoe dit voel om klaar te wees met skool.

Die matrikulante van 2021 is nou deel van die grootmenswêreld.

Die Herald het met Kayla Joubert, 18, wat onlangs aan Hoërskool Riebeeckrand gematrikuleer het gaan gesels oor haar toekoms en hoe dit voel om uiteindelik na 12 jaar klaar te wees met skool.

“Dit voel anders. Jy is al so gewoond om vir soveel jare skool toe te gaan, en ek besef nou dat tyd vinnig verbygaan. Nou begin my lewe.”

Sy het vertel dat sy verskriklik gelukkig is met haar punte omdat sy in moeilike omstandighede baie hard gewerk het, en nou die vrugte daarvan pluk.

“My planne is om hard te werk sodat ek geld kan verdien om my droom te bewaarheid om ‘n bekende tatoeëerkunstenaar te word en olieverfskilderye te verkoop.”

Oor haar matriekjaar het Kayla gesê sy het gedink dat dinge maklik gaan wees, maar het besef dat ‘n mens hard moet werk om goeie punte te kry. Alhoewel haar matriekjaar moeilik was, het sy elke oomblik daarvan geniet.

“Wat ek die meeste geniet het was om kunswerke saam met my kunsvriende te verf. Ek sou sê my lekkerste vak was Engels, en my onderwyser het altyd probeer om die vak so lekker as moontlik te hou.”

Sy raai die matrikulante van 2022 aan om elke oomblik van hul matriekjaar te geniet.

“Daar gaan hier en daar brûe wees waaroor jy moet loop, maar jy werk vir jou toekoms. Maak seker jy werk hard sodat jou drome kan waar word.”

Related Articles

Back to top button