Local newsNews

KYK: Motorfietryers staan saam vir Chantale

Motorfietsryers het van oraloor bymekaar gekom om deel te wees van die Chantale's Fight Against Cancer-fondsinsamelingsfunksie.

Talle motorfietsryers het onlangs bymekaar gekom om te help geld insamel vir hulle visepresident, Christiaan Lloyd, se suster Chantale Lloyd.

Die Windpomp Pub & Grill was op Saterdag, 29 Mei volgepak met motorfietsryers wat die Chantale’s Fight Against Cancer-fondsinsameling ondersteun het.

Bennie Hallatt van Die Windpomp het ook besluit om sy hare af te sny vir Chantale.

Volgens Riëtte Venter, sekretaris van die Naughty By Nature-motorfietsklub het hulle saam met die I Dare You Foundation die funksie aangebied om fondse in te samel om die koste van Chantale se kankerbehandeling te help dek.

Henk Grimsell en Tanya V het die gehoor vermaak met lekker musiek.

 

Baie van die motorfietsryers het ook geld geskenk sodat hul hare afgesny kon word en hulle hul ondersteuning vir Chantale kon wys. Gert Krog, die president van Naughty By Nature se hare het heel eerste gewaai en sy vrou, Elmarie, het met trane in haar oë die poniestert gesny waaraan hy nou al jare groei – maar dit was vir ‘n goeie doel.

Die Blue Parrot Smokehouse het ook ‘n Hot Wings-uitdaging aangebied, en Chris Vermeulen en Gerdine Stoltz het as die wenners van die uitdaging weggestap.

Johanna Douglas, Max Botha, Jancko Botha en George Brough.

“Ons is oorweldig deur die ondersteuning wat ons gekry het, veral in die moeilike tyd wat almal beleef met Covid-19. Mense kan nie uitgepraat raak oor hoe ‘n groot sukses die dag was nie,” het Riëtte vertel.

Corne Hulme, mede-eienaar van die Windpomp bedank graag elke persoon en besigheid wat die fondsinsamelingsdag ondersteun het.

Christiaan Lloyd, Chantale se broer wys sy ondersteuning deur sy hare vir haar af te sny.

“Vrede woon in ‘n siel vol dankbaarheid, en namens die I Dare You Foundation wil ons net vir Naughty By Nature, Windpomp en almal betrokke bedank vir die fondsinsameling wat hulle vir Chantale gehou het. Dankie dat julle I Dare You Foundation deel gemaak het van hierdie besonderse, lekker dag. Die ondersteuning was oorweldigend en ons harte loop oor van dankbaarheid,” het Juanita Venter, ‘n stigterslid van I Dare You Foundation vertel.

Naughty By Nature bedank ook graag al hul borge, naamlik Die Windpomp Pub & Grill in Randfontein; JVH; Ben Morgenrood; Gripp Unlimited; Stols Metals; Evil Performance, asook alle anonieme borge.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button