Opinion

Afsonderingstydperk. Sterkte!

Daar is hoop. Ons kan en gaan vir seker meer rose uitdeel in hierdie afsonderingstydperk.

Ek stap terug van die Randgate-winkels vir die soveelste keer verlede Dinsdag en Woensdag nadat ek by die toiletpapierbrigade aangesluit het om voor die groot landing van die koronavirus noodvoorrade aan te vul.

Ag, oukei, my voorrade het ingesluit ’n paar ekstra nikotienstokkies en nog ’n bietjie lawaaiwater, net ingeval die eensaamheid my vang oor die volgende 21 dae.

Net daar, pas na ek gespuit is en deur ’n skare van soms ongeskikte mense in ’n groot kettingwinkel is, het ek besluit om my eie helikopteroorsig oor die gedoente te kom hou.

Daar is iets van alles gesien. Die hele kaleidoskoop van mense en dinge. Ja, daar was onder andere tannies wat nog staan en konferensie hou in die besige gange tussen rakke. Trollies is werklikwaar gelaai! Wat my verstom het is hierdie toiletpapiersindroom.

Twee gedagtes kom toe op – wat word van die arme berge toiletpapier sou CV jou te erg bykom, en is ons werklik so bang vir hierdie goggatjie? Lees my gedagtes.

Voor ek vergeet, wat nou van afsondering, die tweemeter-storie ensovoorts, sou twee geliefdes voel om desondanks tog maar weer bietjie nader kennis te maak? Kan dit oor twee meter gedoen word?

Kostelik om te sien was die pa wat saam met sy drie kleuters kom inkopies doen het en net voor my in die ry was by die betaalpunt. Elkeen het maskers opgehad, ’n eie takie gehad terwyl die pa hulle soos Rassie Erasmus heeltyd aanpor om die regte dingetjies te doen. Bravo!

Tuis moes ek eers my rekenaar aanskakel en sy antivirusprogram op datum bring want die masjien is amper so oud soos ek. Die blikbrein begin toe knipoog en wil-wil vassteek. Ek skop terug in my stoel en ’n paar goeie niepubliseerbare Afrikaanse woorde flits deur my koppie. Daar gaan hy toe want hy weet ek wil gorrel.

Met druktyd sal ons meer weet van CV en die volle impak. Sterkte. Wees lief vir die naaste, lewe eenvoudig, hou jou voete op die grond, eer jou Skepper en doen maar tog die regte dinge soos ontsmet en was die hande. Bid vir Suid-Afrika en vergeet van swartgalligheid.

Laastens kan daar rose of brandnetels uitgedeel word. Brandnetels gaan aan diegene wat o so vrylik nonsens in ’n oorvloed oor CV op die sosiale media aanstuur, veral WhatsApp. Rate is uitgedeel waarvan sommige so oud is soos die berge. Ek het in my lewe nog nie soveel twak gesien nie! Brandnetels gaan ook aan die ridders van die wapad wat by jou kom staan en bedel terwyl jy besig en al klaar geïrriteerd is.

Rose gaan aan die Kleurlingdame wat my uit ’n lang ry kom haal het by die betaalpunte, my eenkant toe geneem het sodat ek ook vir die tollenaar sekere ander goedjies kon betaal. Daar is hoop. Ons kan en gaan vir seker meer rose uitdeel in hierdie afsonderingstydperk.

Related Articles

Back to top button