Opinion

Die stryd is lank nie verby nie!

Al die lof, eer en aanbiddig kom net u toe en aan U behoort die konkryk, die krag en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

Voos! Uitgewaste waslap – ekke. Stryd vir ongeveer 10 weke. Krom paaie en hewige steil opdraandes.

Geweet dit kom en het net eenvoudig besluit – loop die pad stoksiel-, soos my vinger, alleen.

Het ek liefmensies om my? O ja, beslis vele van hulle. Wil hulle nie bemoei of vermoei nie. Is ek ‘n rots?

Nee – duisend maal nee!

Die swakste onder die swakkes, maar die Erekoning is met my! Hy omvou en koester my gedurigdeur in die holte van sy kosbare deurboorde hande! Snags lê ek ure en gesels, kliphard met Hom want ek weet Hy sit hier by my en luister – Hy slaap of sluimer nooit. Wanneer die pad te krom en die opdraande te steil is, maak Hy dit reguit!

So lê ek vele aande en stoei vir slaap – vrugteloos – dan praat ek eerder met Hom. Presies soos met narkose ‘skrik’ ek wakker en tot my verbasing het ‘n handvol ure verbygeglip.

Die stryd is lank nie verby nie! Daar’s letsels – ‘n yslike gat in my skrale finansies, maar ek klou histeries aan die die soom van Sy kleed vas! Ek’s ‘n stoffie, ‘n asempie, ‘n hartklop, ‘n molekule van ‘n molekule maar vergun my, mooi asseblief, ‘n lofoffer net aan Hom:

“My Koning, U word genoem, in die Dik Boek: Blinke Morester; Soetse Roos van Saron; Witste Lelie uit die dale; Son van Geregtigheid; die Alfa en die Omega – die Begin en die Einde; leeu uit die Stam van Dawid; U is, U was en U sal wees tot in alle ewigheid; U is so hoog verhewe, net die soom van U kleed vul alreeds die aarde; krom paaie maak U reguit en opdraandes gelykpad, en U skep opnuut weer ‘n rein hart en ‘n vaste gees; U sluimer of sluimer nooit; U gelyke is nie en niemand kan met U na die gereg gaan nie; U koester ons gedurigdeur in die palms van U kosbare deurboorde hande; Wonderbaar, Sterke God, Ewige Vader, Raadsman, Vredevors, Koning van al die konings, Erekoning. Net U is waardig om die boek oop te maak en die seëls te breek.”

Al die lof, eer en aanbiddig kom net U toe. Aan U behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

Related Articles

Back to top button