Local newsNews

Kampvegter vir vroue- en kinderregte

Rosa van Niekerk is deur Ms World International Pageant 2019 genooi om in ‘n realiteitsprogram te verskyn.

Bekende skoonheid en ‘n praktiserende prokureur van Westonaria, Rosa van Niekerk, 43, gaan haar stryd teen gesinsgeweld en vir vrouregte in die VSA voortsit.

Sy is nie net deur die Ms World International Pageant 2019 uitgenooi om aan hul kompetisie deel te neem nie, sy en ander deelnemers sal die geleentheid kry om in ‘n realiteitsprogram te verskyn. Dié realiteit-TV-avontuur strek oor vier dae van 19 tot 22 Augustus in Miami, Florida.

“Saam met die skoonheidskompetisie word daar ook ‘n realiteitsprogram, Queen of the Crowned opgeneem. Kameras volg die deelnemers elke dag om hul wedervaringe op pad na die kroon vas te lê. Elke vrou bevorder ook ‘n bepaalde saak. Ek bevorder vroueregte en wil ‘n einde bring aan gesinsgeweld.”

Die beeldskone Rosa van Niekerk is bekend as prokureur en motiveringspreker. Foto: Deon van Wyk Photography

Rosa was self in ‘n vorige verhouding die slagoffer van fisiese en emosionele mishandeling.

“Ek glo dat ek geroep is om ‘n verskil in vroue se lewens te maak deur my Crown Up-boodskap te versprei. Ek was self in daardie mishandel-bootjie en weet hoe belangrik dit is dat vroue opgehef moet word.”

Rosa doen ook baie in die gemeenskap en is ‘n sterk rolmodel vir ander vroue en jong dogters – hetsy as beoordelaar by skoonheidskompetisies, model, spreker of prokureur.

As huidige Mrs South Africa World International 2019 en voormalige Mrs Grand South Africa 2017, Mrs Classic South Africa 2017 en Mrs Classic Universe 2018 is haar boodskap die volgende …

“’n Babadogtertjie word gebore met ‘n onsigbare kroon. Soms val daardie kroon af, byvoorbeeld wanneer iemand vir jou iets leliks sê, soos dat jy vet of lelik is. Wanneer jy dan die buitekant van ‘n vrou weer met grimering mooi maak, kom al die innerlike skoonheid weer uit (dit is wat regtig tel) en sit die vrou dan weer haar kroon op. As prokureur tree ek baie in die howe op om vroue en kinders te help wat aangerand word of fisies of emosioneel mishandel word. Ek glo as ek my tyd vir ons jong dames gee, sal dit hulle aanspoor om ook groot hoogtes te bereik. Ons moet lei deur ‘n voorbeeld te stel. Kinders luister nie noodwendig na wat jy sê nie, maar hulle kyk hoe jy optree. My leuse is Get up, pray up, crown up, and rise up.”

Vir Rosa is dit belangrik om vir haar eie twee dogters ‘n voorbeeld te stel.

“Hulle moet weet dat hulle God se kinders is, perfek geskape na Sy wil, en daarom is hulle goed genoeg. Dit is vir my baie belangrik om dogters met selfvertroue groot te maak, sodat hulle weet dat hulle enigiets kan doen en bereik.

“Ek wil voortgaan om my boodskap aan vroue en dogters oor te dra. Veral ons jong dogters het nodig om te weet hulle is worthy. My nalatenskap is dat vroue moet kan sê, Because of her I did not give up. Ek besoek ook skole en plekke van veiligheid vir vroue en kinders, en was al ‘n gasspreker op die TV-program Legal talk.”

En as sy nie by skoonheidskompetisies betrokke is, oorsee gaan of by die werk is nie, geniet Rosa dit om tyd saam met haar familie deur te bring en perd te ry. Sy is die dogter van ‘n Italiaanse ma en ‘n Suid-Afrikaanse pa.

“Ek spot altyd dat ek is ‘n boereworspasta is,” het sy afgesluit.

Related Articles

Back to top button