School sportSport

Riebeeckrand-netbal is aan die brand

Vanjaar spog Hoërskool Riebeeckrand breëbors met ses spelers in die D2-span en drie spelers in die Gauteng-oefengroep.

Hoërskool Riebeeckrand se netbalspelers is vanjaar weer aan die brand op die netbalbane.

Volgens Elzeri Wright, skoolwoordvoerder, presteer dié spelers uitmuntend in hul spanne, asook individueel.

“Riebeeckrand het vanjaar agt netbalspanne. Die eerstenetbalspan het Hoërskool Overvaal met ‘n telling van 22–21 in die NWU 16-reeks gewen en ook vir Hoërskool Bekker met ‘n puik telling van 47–9 geklop. Die netbalspanne het op 4 April hul eerste ligawedstryd gespeel waartydens die eerstes Glenvista High School 38–2 gewen het,” het sy gesê.

Die eerstenetbalspan het tydens die April-skoolvakansie Mosselbaai toe getoer en aan die AJ Sportweek deelgeneem waar hulle sesde uit 23 skole geëindig het. Vyf Riebeeckranders, naamlik Melouise Mulder, Criske Hechter, Sharne Landman, Devonique Breedt en Elizma Pio is uit 230 spelers gekies om in Singapoer te gaan netbal speel.

“Jaar na jaar spog Riebeeckrand met ‘n klomp netbalspelers wat in die D2-span en Gauteng-oefengroep opgeneem is. Vanjaar spog ons weer breëbors met ses spelers in die D2-span en drie spelers in die Gauteng-oefengroep,” het sy gesê.

Die spelers wat die D2-span gehaal het, is Dehandri Thoms (o.15), Devonique Breedt (o.16), Nicola van der Merwe (o.16), Melouise Mulder (o.19), Danielle Olivier (o.19) en Mantiki Makayi (o.19). Die drie spelers wat verder gevorder het na die Gauteng-oefengroep, is Devonique Breedt (o.16), Nicola van der Merwe (o.16) en Melouise Mulder (o.19).

“Riebeeckrand is baie trots op dié spelers en hul afrigters,” het Elzeri bygevoeg.

Related Articles

Back to top button