MunicipalNews

#MunisipaleMaandag: Vullis lê sypaadjies vol, gras jare laas gesny in Glenharvie

VIDEO: 'n Inwoner van Glenharvie sê dié myndorpie het die afgelope paar jaar baie agteruit gegaan wat dienslewering betref.

‘n Groep inwoners het tydens die Herald se besoek aan dié myndorpie op 1 April hul stem dik gemaak oor die swak dienslewering.

Volgens Mariette Gouws is die myn en die munisipaliteit ewe skuldig daaraan om hul area af te skeep.

“Die twee partye is veronderstel om saam te werk om die dorpie netjies te hou, maar nie een van hulle bring hul kant nie. Die vullis lê die sypaadjies vol en die gras op die oop stukke grond is seker jare laas gesny. Dit is die ideale skuilplek vir kriminele,” het sy gesê.

Minette Rautenbach het gesê dat Glenharvie lankal nie meer ‘n spogdorp is nie.

“Glenharvie was ‘n dorp om op trots te wees, maar nou ervaar ons die een probleem na die ander en die dorp lyk sommer sleg,” het sy gesê.

Volgens haar ervaar hulle ook dikwels waterprobleme en baie straatligte werk glad nie. Sy het bygevoeg dat die oop mangate rondom die dorp ‘n groot gevaar is en dat die lang gras slange lok.

“Die inwoners gooi sommer hul vullis net waar hulle wil en dan word die sakke deur die mense wat herwin oopgeskeur en net so gelos. Die munisipaliteit doen niks daaraan nie en die gemors lok wilde honde na die woonbuurte toe. Dis tyd dat die myn, die munisipaliteit en inwoners hande vat om die dorpie weer mooi te maak.”

Volgens haar man Hennie is veiligheid ook ‘n groot bekommernis in die area. Daar is baie leë mynhuise wat kriminele lok en boonop word die tuine en sypaadjies nie onderhou nie.

“Die polisie is glad nie sigbaar in Glenharvie nie en daarom is daar baie misdaad.”

Related Articles

Back to top button