NewsSchools

Juf Bea groet Ram na 24 jaar

Juffrou Bea Nortje tree kort na haar 65ste verjaarsdag in Februarie af.

Juffrou Bea Nortje het sedert 1995 ‘n pad saam met Laerskool Randfontein (Ram) gestap. Sy verlaat dié skool aan die einde van Februarie wanneer sy aftree.

Haar onderwysloopbaan het in 1976 begin en sy het dié beroep gekies omdat sy haar hele jongmenslewe lank graag met kinders wou werk.

Bea Nortje gaan na haar aftrede vrywilligerswerk by hospitale en kleuterskole doen. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Ek is nog nie reg om af te tree nie en ek het soveel wat ek nog vir die leerders wil leer, maar ongelukkig het die ouderdom my ingehaal. Ek sal kort na my 65ste verjaarsdag klaarmaak by die skool. Een van die dinge van die skool waarna ek die meeste sal verlang, is die stywe drukkies wat ek altyd by die leerders gekry het,” het sy gesê.

Sy het op ‘n plaas tussen Wolmaransstad en Schweizer-Reneke grootgeword en in Randfontein kom woon nadat sy haar studies in Potchefstroom voltooi het.

“Randfontein se gemeenskap het so diep in my hart ingekruip, want hulle is die vriendelikste, mees opregte, sout-van-die-aarde mense wat jy ooit sal ontmoet. Hulle sal my altyd na aan die hart bly,” het sy gesê.

Na haar aftrede gaan Bea as ‘n vrywilliger by hospitale en kleuterskole werk. Hoewel sy dit gaan mis om leerders te help om te groei en te ontwikkel, sien sy daarna uit om nie meer die administrasie en papierwerk wat met skoolgee gepaardgaan, te doen nie

“Daar was deur die jare vir my baie hoogtepunte by Ram. Ek is genooi na die wêreldkongres om daar ‘n lesing aan te bied en ek het ook al die teachers award ontvang. Ek het vir Beeld lesse geskryf en ek het so ‘n paar jaar gelede verder studeer en is nou ‘n gekwalifiseerde assessor en moderator. Ek het Nelson Mandela persoonlik ontmoet toe hy Ram besoek het, en my tennisspanne en dansgroepe was gereeld wenners,” het sy vertel.

Buiten haar vrywilligerswerk sien sy ook daarna uit om tyd aan stokperdjies soos lees te bestee, om oefeninge saam met haar kleinkinders te doen en vakansie by die see te hou.

“Ek gaan die leerders baie mis en natuurlik al die wonderlike personeel ook. Ek het so baie wonderlike tye by Ram ervaar en ek het soveel herinneringe om aan vas te hou.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button